Richard Masoner - Flickr - Traffic

Hier is ’n paar wenke om veilig te bestuur wanneer jy die sirene van ’n noodvoertuig hoor:

  • Moenie paniekerig raak nie.
  • Moenie skielik op die verkeerde plek stilhou of ’n gevaarlike skuif maak nie. Dit kan die noodvoertuig, sowel as ander voertuie, in gevaar stel.
  • Gee pad, veral in spitsverkeer.
  • Moenie toelaat dat jou aandag afgetrek word en jy daardeur ’n gevaar op die pad is nie.

Daar is ook groter risiko’s op sekere plekke:

  • Moenie op ’n hoogte of op ’n blinde draai stilhou nie. Dit plaas die bestuurder van die noodvoertuig in groter gevaar.
  • Moenie by die ingang na ’n hospitaal of brandweer intrek nie. Dit kan ’n noodvoertuig verhoed om veilig uit te ry of in te draai.
  • Wanneer jy ’n noodvoertuig sien wat stilgehou of parkeer het, ry stadiger en ry dan versigtig wyd daarom. Wees op jou hoede vir hindernisse, ander bestuurders en nuuskierige agies.
  • Moenie padaansluitings of kruisings blokkeer nie; jy kan in die noodvoertuig se pad wees.

Veilig bestuur as jy die sirenes hoor: wat moet jy dan doen wanneer jy bestuur?

  • Wees voorbereid: Let op na ambulanse, brandweerwaens, polisievoertuie of ander noodvoertuie met flitsende blou, rooi of groen ligte, kopligte en sirenes.
  • Kyk gereeld in jou truspieëltjie.
  • Bly kalm en neem verstandige besluite, terwyl jy veilig bestuur en die padreëls gehoorsaam.
  • Bly bewus van voertuie aan jou regter- en linkerkant, asook voertuie wat moontlik in jou spieëltjies se blinde kolle kan wees.
  • Kyk in jou tru- en kantspieëltjies om die spoed van die noodvoertuig te bepaal en jou volgende skuif te beplan.
  • Soek voor jou ’n plek waar jy veilig kan aftrek.
  • Indien jy nie veilig kan stilhou nie, beweeg teen ’n veilige spoed vorentoe.
  • Verwarde of senuagtige bestuurders, wat bly beweeg sonder om te weet wat om te doen of waarheen om te gaan, is gewoonlik die bestuurders wat in ander voertuie of noodvoertuie vasry.
  • Gebruik jou flikkerligte om aan noodvoertuie en ander padgebruikers ’n aanduiding te gee van wat jy gaan doen.
  • Indien moontlik, hou stil in die binneste baan en wag vir die noodvoertuig om verby te ry.
  • Hou jou voet op die rem sodat die bestuurders van noodvoertuie aan jou remligte kan sien jy het stilgehou.
  • Onthou, daar mag dalk nog noodvoertuie op pad wees.
  • Wees voorbereid in geval jy in die rigting van ’n motorongeluk ry.
  • Indien jy ’n noodvoertuig sien wat stilstaan, ry stadiger en verskuif indien moontlik na ’n ander baan. As verkeers- of ander toestande dit verhoed, moet jy stadig en versigtig ry.
  • Wanneer jy by ’n ongelukstoneel verbyry, moenie toelaat dat jou aandag afgetrek word of onnodig stadiger ry nie. Moenie nog ’n ongeluk veroorsaak nie.
  • Wanneer jy by ’n kruising met ’n stopteken of rooi verkeerslig kom, en ’n reaksievoertuig kom van agter af, bly waar jy is as jy nie na links kan beweeg nie.
  • Probeer die roete wat die bestuurder van die noodvoertuig sal neem vooruit skat. As jy op ’n lang pad sonder afdraaie vorentoe is, maak dit sin dat die bestuurder reguit verby jou sal wil ry.
  • Maak seker dis veilig om terug te draai in vinnige verkeer en sit jou flikkerlig betyds aan.

Wat moet ons nie doen nie?

  • Vermy als wat jou aandag aftrek, soos harde musiek wat dalk sal keer dat jy die sirenes betyds hoor. Hou die geraasvlakke in jou motor laag.
  • Moenie die noodligte en –sirenes ignoreer en net aanhou ry nie.
  • Moenie na regs ry of in die middelste baan stilhou as daar plek in die linkerbaan is nie.
  • Moenie vinniger jaag om voor die noodvoertuig oor die groen verkeerslig te ry nie.
  • Moet nooit oor ’n rooi lig of stopstraat ry as ’n noodvoertuig van agter af aankom nie.
  • Moenie ’n noodvoertuig met flitsende ligte probeer verbysteek as ’n polisiebeampte of noodpersoneel jou nie wys om dit te doen nie.
  • Noodvoertuie sal die linkerkantste harde skouer gebruik as alle bane geblokkeer is. Moenie daarop ry of dit blokkeer nie.
  • Behou die volgafstand en moenie te na aan noodvoertuie ry nie. Dis gevaarlik.
  • Moenie skielike skuiwe maak wanneer die noodvoertuig verby is nie. Daar kan nog op pad wees.

As jy hierdie wenke volg, sal jy die noodpersoneel help om betyds behoorlike hulp te verleen. As jy of ’n geliefde in ’n noodsituasie is, sal jy ook wil hê nooddienste moet so gou moontlik by julle uitkom.

Deur Faiza Mallick

Bron: arrivealive.co.za

Foto: Flickr - Richard Masoner