Maar as dit jou begin verveel om sommerso ’n paar treë daarop te gee, doen jy dit dalk al minder en vervaag jou goeie voornemens vir 2015. Hoe kan jy die trapmeul opwindender maak?

Kikker dit op

Kom jy soms by die gim en besef jy het nie ’n oefenplan nie? Dan draf jy dalk 20 minute doelloos voor jy handdoek ingooi. Beplan eerder vooraf. Wil jy jou algemene fiksheid verbeter? Mik dan om sowat 2 km verder te draf as die vorige keer. Wil jy jou bobene verferm? Kies dan wisselende hellings om die spiere te laat werk.

Stel doelwitte

Duidelike doelwitte sal jou ook motiveer. Al oefen jy nie vir ’n wedloop nie, kan jy vir jou ’n afstand en tyd stel wat jy wil behaal. Bou elke oefensessie daarna op en druk jouself geleidelik. Wanneer jy goed op jou lysie kan afmerk, sal jy tevrede voel en dryfkrag hê om voort te gaan.

Kies ’n speellys

Draf is nie ’n sosiale oefening nie en geselserige gimmaats kan vervelig raak. Stel vir jou ’n speellys van musiek op om jou aan die gang te hou. Traak jy nie oor die trefferlyste nie? Kies dan eerder ’n oudioboek. Dit kan pret wees om ’n oefensessie per hoofstuk te doen – jy is dalk so nuuskierig oor wat volgende in die storie gaan gebeur dat jy langer oefen.

Beheer jou arms

Draf gaan natuurlik oor jou bene, maar moenie jou arms afskeep nie. As jy aan die kant van die trapmeul vashou, verbrand jy minder kilojoules. Vermy dit dus ten alle koste. Stel eerder die helling laer tot jy dit kan baasraak sonder om aan die kante vas te hou. Sorg ook dat jy jou hande op en af beweeg met los vingers eerder as om dit langs jou sye heen en weer te swaai. Dit sal jou gebalanseerd hou en spanning verminder. En moenie vergeet om elke keer voor jy draf jou arms en skouers te strek nie.

© Cover Media