‘Ek was ’n jong, gesonde, aktiewe ou. Toe die dokter sê ek het ’n beroerte gehad, was ek geskok. Toe tref die werklikheid my’ – Steve*

Dit was twee dae voor Kersfees en Steve* en sy vrou, Cheryl*, het gekyk hoe hul vyf- en sewejarige seuns strandsokker speel. Later het Cheryl die seuns geroep om in te kom. Steve onthou sy het hom gevra om die seuns te bad terwyl sy aandete maak. Skielik het hy verward gevoel, kon haar nie antwoord of sy ledemate beweeg nie. Die res van die aand is ’n waas . . . ’n Reeks toetse in die hospitaal het bevestig dat Steve ’n ligte beroerte gehad het – op 33.

"Toe tref die werklikheid my”

“Ek was bang,” sê hy. “Ek kon nie behoorlik praat nie en het nie gevoel gehad aan die linkerkant van my lyf nie. Ek het steeds vir myself gesê my vrees is belaglik; ek is ’n jong, aktiewe ou. Toe die dokter sê ek het ’n beroerte gehad, was ek geskok. Toe tref die werklikheid my.”

Al waaraan hy kon dink, was sy vrou en seuns. “Wat as ek nie herstel nie en nie weer kan werk nie? Hoe sal hul lewens verander, en wat sal van ons word?”

Ná vier maande se rehabilitasie en terapie het Steve volkome herstel en kon hy teruggaan werk toe. “Ek het ’n mediese fonds gehad en gedink dit was goed genoeg. Ek het geweet ek sou eendag my finansies hersien en miskien lewensversekering en kritiekesiekteversekering uitneem, maar het nooit kon dink die lewe sou my so vinnig inhaal nie.”

Steve het ’n finansiële raadgewer gaan spreek en sy mediese verslae ingedien. Hy kon toe lewensversekering kry, hoewel sy premies aansienlik hoër is.

“Die verligting is onbeskryflik. Ek is gelukkig dat ek die premies kan bekostig. Maar dit het ’n beroerte gekos om my na my geldsake te laat kyk. As ek dit vroeër gedoen het, kon ek ons baie angs en groot uitgawes gespaar het.”

*Nie hul regte name nie. Steve se storie is gegrond op ’n ware verhaal.

Wat is ’n beroerte?

’n Beroerte vind plaas as ’n bloedklont die bloedtoevoer na die brein blokkeer of ’n bloedvat in die brein bars. Jy kan jou risiko om ’n beroerte te kry aansienlik verminder met leefstylveranderinge en, in sommige gevalle, medikasie.

Mite: Ek sal nie ’n beroerte kry nie, want ek is jonk en gesond.

Feit: Enigeen, selfs kinders, kan ’n beroerte kry.

Mite: Ek kan niks doen om my kans op ’n beroerte te verminder nie.

Feit: Ongesonde gewoontes soos rook, te veel alkohol drink en nie genoeg oefen nie, kan jou kans verhoog. As jy hoë cholesterol, hoë bloeddruk en diabetes behandel, kan jy jou risiko verlaag.

Onder die tekens en simptome wat skielik begin, tel die volgende:

  • Gevoelloosheid of verswakking in die gesig, arm of been.
  • Verwardheid of sukkel om te praat of om ander te verstaan.
  • Sigsteuring in een of albei oë.
  • Duiseligheid, sukkel om te loop of verlies aan balans of koördinasie.
  • Kwaai hoofpyn van ’n onbekende oorsprong.

Bron: Sanlam