Die meeste mense droom daarvan om ’n persoonlike afrigter te kan hê. Dit is mos die rede hoekom die beroemdes altyd so goed kan lyk, of hoe? Miskien nogal nie. Die deskundiges deel gewoonlik graag ’n klompie wenke uit wat dalk nie heeltemal in die kol is nie. Wil jy meer uitvind? Wel, hier kom dit.

Hurksitte

Dat dit die sleutel tot ’n ronde sitvlak en skraal dye, is ’n feit – of jy nou daarvan hou of dit met ’n passie haat. Die oefeninge moet egter op die korrekte manier gedoen word. Dit beteken dat jy nie verder as ’n hoek van 90 grade moet afsak nie, vertel hulle jou. Dit is veronderstel om jou knieë te beskerm, maar, volgens Chris Fox van CrossFit South Brooklyn, kan dit net die teenoorgestelde uitwerking hê. Hy vertel aan shape.com dat 90 grade die moment is wanneer daar die meeste druk op die kniegewrig uitgeoefen word, en dit kan tot probleme lei. Hy beveel aan dat jy liewer laer sak, want dit sorg dat die senings van die agterdyspiere betrokke raak. Hierdie houding stabiliseer jou en dit versterk jou.

Maagspier-oefeninge

Steek jul hande op: wie het al ure lank sy maagspiere ingetrek in die hoop om ’n sespak te ontwikkel? Wel, volgens Chris het jy hou tyd gemors. As jy verkeerd eet, gaan geen oefening jou spiere laat bult nie, want hulle word deur ’n laag vet bedek. Die goeie nuus is dat jy heel moontlik reeds oor volmaakte maagspiere beskik! As jy egter met hulle wil spog, sal jy dít wat jy in jou mond stop, moet heroorweeg!

Kardio-oefeninge

Jammer, maar ons sê nie dat jy nie in die gimnasium hoef te gaan sweet nie. As jy egter graag die kilogramme wil afskud, gaan dit nie help om hulle net op die trapmeul te gaan uitstamp nie. Chris beklemtoon weer eens die feit dat dieet noodsaaklik is as jy veranderinge aan jou liggaam wil aanbring. Sommige soorte kardio-oefeninge kan selfs die hormoon vertraag wat beheer uitoefen oor jou metabolisme. Dit beteken dat vet dan vinnig ophoop. Dit is dus belangrik om ook ’n gebalanseerde dieet te volg – oefening gaan niks help as jy dit elke aand met suiker aansuiwer nie!

Pyn

Sonder pyn is daar geen resultate nie … dan nie? Verkeerd. Terwyl dit vanselfsprekend goed is om jouself aan te por, moet jy ook bewus wees van jou beperkinge. Wanneer jy ekstra swaar gewigte oplig, kan jy jou spiere ooreis. Jy sal ook lighoofdig voel as jy strawwe kardio-oefeninge doen wanneer jy nie daaraan gewoond is nie. ’n Besering sal bowendien jou program by die gimnasium weke lank vertraag, dus beveel ons aan dat jy hard probeer, maar dat jy ook na jou liggaam moet luister.

Draf

Baie mense reken dat dit veiliger is om dinge op die trapmeul in die gimnasiom te gaan uitspook as om die sypaadjie te bestorm. Daar word al jare lank beweer dat dit minder stresvol is vir die knieë, maar dit is nie die geval nie. Todd Schilfstein, DO, ’n kliniese instrukteur by die Rusk Institute by die Mediese Sentrum van die New York-universiteit, het aan webmd.com gesê dat die gewig van jou liggaam spanning op jou gewrigte kan veroorsaak. Dié feit verander natuurlik nooit – waar jy ook al oefen. Benut jou oefening die beste deur dit te varieer, in plaas van net te draf.

Joga

Hierdie soort oefening kan by tye goed wees, en vir baie mense is dit die volmaakte lae-impak-oefeninge. Die bewering dat dit enige soort rugpyn kan genees, is egter onwaar. Dit help gewis baie vir gespanne spiere en dit kan help om jou deur en deur te versterk, maar Todd verduidelik dat, as jy aan iets ernstigers ly – soos byvoorbeeld ’n werwelprobleem – kan jy eintlik meer kwaad doen as goed. Raadpleeg by voorkeur jou dokter indien jy enigsins bekommerd is.

© Cover Media