Neusbloeding kom baie algemeen voor. Die meeste mense sal al minstens een neusbloeding gehad het. Dit gebeur gewoonlik meer met jong kinders en ouer mense.

Algemene oorsake

  • Trauma: ’n besering, oormatige neus krap of oordadige neus blaas.
  • Verkoue of griep. Dit kan gedurende of ná die siekte gebeur.
  • Droë neusslymvlies veroorsaak deur lugverkoelers, warm, droë lug, stof, besoedeling en ouderdom.
  • Rook.
  • Kokaïengebruik.
  • Medikasie soos aspirien, warfarin of kortisoon-neusspuite.

Minder algemene oorsake

  • Hipertensie
  • Bloedstollingsafwykings
  • Ernstige lewersiekte

Die meeste neusbloedings is nie ernstig nie en sal self ophou. Bloeding kan beheer word deur die neus vyf tot 10 minute toe te druk. Ys sal ook help.

Haal asem deur die mond, bly regop en spoeg die bloed uit wat in die mond opdam. As dié maatreëls nie werk nie, moet ’n dokter die bloeding help beheer deur die neus met gaas te pak wat deurtrek is met ’n bloedvatvernouende middel.

Dit is belangrik om die moontlike oorsaak van die bloeding te bepaal; bloedtoetse kan nodig wees.

Kry mediese hulp

  • Met swaar bloeding (’n groot volume bloed).
  • Wanneer bloeding meer as 10 minute aanhou.
  • Wanneer daar gepaardgaande duiseligheid is.
  • Met herhaalde bloedings.