Die drankies is propvol antioksidante, vitamiene en minerale en is ’n gesonde alternatief vir gewone tee en koffie. Dit kan jou liggaam help ontgif, jou ’n energie-hupstoot gee en jou risiko vir beroerte, hartsiektes en hoë bloeddruk verlaag.

Die drankies kan ook jou gewig help afhou en is ’n sagter manier om te ontgif as om ’n algehele vloeistofdieet te volg. Daar is egter geen bewyse dat die tee iemand se selle kan suiwer nie, maar gehalte-drankies kan die liggaam se natuurlike daaglikse ontgifting aanhelp – net soos ander drankies en kos dit kan benadeel.

Groentee is die klassieke keuse om ons natuurlike reinigingsproses aan te help omdat dit meer gesondheidsvoordele as swart tee inhou, glo danksy hoe dit verwerk word – met swart tee word fermentasie toegelaat, terwyl dié proses met die vervaardiging van groentee vermy word. Die resultaat is dat groentee sy maksimum aantal antioksidante en polifenole – wat dit so gesond maak – behou.

Daar is spesifieke soorte tee vir ontgifting in winkels beskikbaar wat bykomende voordele bevat. Kruie soos sitroengras, gemmer en perdeblom bevat almal eienskappe wat help om jou lewer, een van die organe wat ’n belangrike rol speel in jou natuurlike ontgiftingsproses, gesond te hou. Daar is ook al bewys dat gemmer oksidatiewe stres binne die lewer verminder, wat indirek die orgaan help om sy taak doeltreffender te verrig.

Drink gereeld groentee, maar moenie die goeie werk daarvan ongedaan maak deur verkeerde kosse te eet nie. Eet minder verwerkte en gebraaide kos en meer vrugte, groente, volgrane, maer proteïene en anti-inflammatoriese vette soos avokado’s en amandels om die tee se voordelige eienskappe ten volle te benut.