Banting is ’n MKBV-eetplan (min koolhidrate, baie vet; ook bekend as LKHV: lae koolhidraat, hoë vet), nie ’n geen-koolhidraat-eetplan nie.

[caption id="attachment_122614" align="alignnone" width="600"]Die Banting oplossing beloof om jou te help met permanente gewigsverlies. Foto: Pexels Die nuwe boek beloof om jou met permanente gewigsverlies te help. Foto: Pexels[/caption]

As jy ’n Banting-entoesias is, hier volg ’n uittreksel uit die nuwe boek Die Banting-oplossing: Jou Laekoolhidraad-gids tot Permanente Gewigsverlies wat pas by Penguin verskyn het.

Tien gelukkige lesers kan elk ’n kopie van die boek wen. Gaan loer hier om in te skryf.

Kritici sê dis gevaarlik om ’n hele voedselgroep uit te sny, en ons stem saam. Hoewel ons weet dat koolhidrate geen noodsaaklike funksie in die liggaam verrig nie, beveel ons nie aan dat koolhidrate heeltemal uit die dieet gesny word nie.

Die aanbevole vlak van koolhidraatverbruik wissel van persoon tot persoon en hang van die individu se metaboliese toestand af, maar dit is nooit ’n koolhidraatvrye dieet nie.

Groente en vrugte word nie aanbeveel nie

Dit is van alle waarheid ontbloot. Styselgroente wat ryk is aan koolhidrate word nie in groot hoeveelhede aanbeveel nie, maar as jy na min-koolhidraat-voedsellyste kyk, sal jy sien dat groente eintlik die grootste deel uitmaak.

Banters word aangeraai om ’n goeie verskeidenheid gesonde, onverwerkte groente te eet, hoofsaaklik dié wat bo die grond groei. Vrugte word nie aanbeveel vir mense met metaboliese siektes soos diabetes nie, want dit is ryk aan natuurlike suikers. Maar selfs dié mense kan af en toe onverwerkte vrugte eet.

Daar is nie genoeg vesel nie

Kyk na die min-koolhidraat-voedsellyste in deel vyf van hierdie boek. Die groente wat ons op ’n min-koolhidraat-eetplan eet is propvol vesel; dit moet dus eintlik as ’n baievesel-eetplan beskou word.

Min-koolhidraat-eetplanne veroorsaak hartsiekte

In studies is keer op keer bevind dat ’n MKBV-eetplan die doeltreffendste dieet is vir vermindering van die risikofaktore wat met kardiovaskulêre siekte vereenselwig word. Ons word reeds 50 jaar lank gebreinspoel om te glo dat versadigde vet hartsiekte veroorsaak, maar daar is eenvoudig geen bewyse wat dit staaf nie.

Die dieetriglyne wat tradisioneel ons menings oor voeding gevorm het, is self op swak beplande en gebrekkige studies gegrond. ’n Oorsig van gegewens van 21 studies met byna 350?000 deelnemers wat gemiddeld 14 jaar lank nagespoor is, het gelei tot die gevolgtrekking dat daar geen verband tussen die eet van vet en die voorkoms van hartsiekte of beroerte is nie.

Met ander woorde, die eet van versadigde vette veroorsaak nie hartsiekte nie. Wat egter wel die gevaar van hartsiekte verhoog, is ’n dieet wat ryk is aan verfynde koolhidrate en suiker.

Eetplanne met min koolhidrate beskadig die niere

Sommige mense aanvaar dat dit ’n eetplan met baie proteïene is. Dit is nie. Dit is ’n eetplan met matige inname van proteïene. Daar is boonop nog nooit bewys dat hoë proteïenverbruik gesonde mense se niere beskadig nie. In sommige studies is trouens aangetoon dat ’n ketogene dieet ’n verbetering in diabetiese nefropatie (nierskade deur diabetes veroorsaak) meegebring het.

Min-koolhidraat-eetplanne moet nie oor ’n lang tydperk gevolg word nie

Talle volgelinge van die min-koolhidraat-eetplan beskou dit as ’n leefstyl; nie ’n tydelike verandering nie. Veral mediese deskundiges wat MKBV ondersteun, volg hierdie eetpatroon reeds jare lank sonder enige nadelige gevolge.

Min-koolhidraat-eetplanne veroorsaak water- en spierverlies, nie vetverlies nie

Daar is trouens bewys dat mense op ’n min-koolhidraat-eetplan meer vet en minder maer massa verloor as diegene wat ’n min-vet-eetplan volg. Daar is studies wat dit bevestig.

Min-koolhidraat-eetplanne bevat te min vitamiene en minerale

Banters volg ’n uiters voedsame dieet bestaande uit vleis, vis, eiers, neute, gesonde vette en ’n verskeidenheid groente sowel as vrugte. Slim koskeuses sal jou help om voedingstekorte te voorkom.

Ketogene diëte is gevaarlik

Inteendeel, ketogene diëte word sedert die 1920’s gebruik vir die behandeling van siektes soos epilepsie, en ’n langdurige ketogene dieet het geen nadelige gevolge gehad nie. Daar is bewys dat ketogene diëte nuttig is vir die omkeer van tipe 2-diabetes, en daar word tans navorsing gedoen oor dié diëte se neurobeskermende uitwerking op toestande soos Alzheimersiekte, kanker en Parkinsonsiekte.

Dr. Atkins se eie dieet het hom doodgemaak

Mense versprei graag hierdie gerug, maar dis eenvoudig nie waar nie. Dr. Robert Atkins, die skepper van die Atkins-dieet, het gesterf weens beserings wat hy opgedoen het toe hy op ’n ysbedekte straat in Manhattan geval het. Die amptelike doodsoorsaak op sy sterfsertifikaat lui “direkte-impak-kopbesering met epidurale hematoom”.

Hierdie uittreksel kom uit Die Banting-oplossing: Jou Laekoolhidraad-gids tot Permanente Gewigsverlies wat pas by Penguin verskyn het. Klik hier vir meer inligting daaroor.

banting cover Afr_HR

Tien gelukkige lesers kan elk ’n kopie van Die Banting-oplossing: Jou Laekoolhidraad-gids tot Permanente Gewigsverlies wen. Gaan loer hier hoe om in te skryf.