Luidens ’n verslag word die kans op depressie groter onder diegene wat op digitale kontak eerder as kontak van aangesig tot aangesig aandring. Die kans om aan depressie te ly van mense wat hul geliefdes gemiddeld drie keer per week sien, is aansienlik laer.

“ ’n Geruime tyd al steun navorsing die idee dat sterk sosiale bande mense se geestesgesondheid versterk,” sê dr. Alan Teo van die Gesondheid- en Wetenskapsuniversiteit in Oregon, Amerika.

“Hierdie is die eerste kykie na die rol wat die soort kommunikasie met geliefdes en vriende speel om mense teen depressie te beskerm.”

Sy span het 11 000 volwassenes van 50 jaar en ouer in Amerika bestudeer vir ’n studie oor gesondheid en aftrede by die Universiteit van Michigan.

Hul navorsing het aangedui alle vorme van sosialisering is nie gelyk in hoe dit ’n mens vervul nie.

“Telefoonoproepe en digitale kommunikasie, met vriende of familielede, het nie dieselfde impak as interaksie van aangesig tot aangesig, wat help om depressie te verhinder nie,” sê hy.

Verskeie faktore, insluitend gesondheidstatus, hoe naby of ver van mekaar familielede woon en bestaande depressie, is in ag geneem. Hulle het bevind min direkte kontak verdubbel die risiko op depressie oor ’n tydperk van twee jaar.

Deelnemers aan die studie wat minstens drie keer per week kontak gehad het, het die laagste vlak van simptome van depressie oor dieselfde tydperk getoon. Net 6,5 persent het simptome van depressie getoon.

Dié wat net elke paar maande of minder kontak met hul familie gehad het, het 11,5 persent simptome van depressie getoon.

© Cover Media