Avokado’s word al lank geprys omdat hulle gesonde vet bevat, maar nou kan dié groen vrug aanspraak maak op die titel “supervoedsel”, want wetenskaplikes het ontdek dit kan dalk kanker help beveg.

In ’n onlangse studie deur die sentrum vir die kommersialisering van vernuwende medisyne in Toronto, Kanada, is bevind die goeie vette in avokado’s kan akute miëloïde leukemie (AML) help beveg. AML is ’n skaars maar dodelike vorm van dié kanker.

Die romerige vetmolekules in avokado’s takel die leukemie-stamselle, wat die siekte aan die gang hou. Tans is baie min geneesmiddels beskikbaar wat dit kan doen. Negentig persent van die mense bo 65 jaar wat AML kry, sterf binne vyf jaar. Wetenskaplikes hoop nou om avokado’s te gebruik om ’n geneesmiddel te ontwikkel. Hulle voer aan dit kan eendag die lewensverwagting en -gehalte van AML-lyers beduidend verbeter.

'Die stamsel is eintlik die sel wat die siekte aandryf.'

“Die stamsel is eintlik die sel wat die siekte aandryf,” het prof. Paul Spagnuolo van die Universiteit van Waterloo gesê. Hy het met die Kanadese navorsers saamgewerk.

“Die stamsel is hoofsaaklik verantwoordelik vir die ontwikkeling van die siekte en dit is hoekom so baie leukemiepasiënte ’n terugslag het. Ons het baie toetse gedoen om te bepaal hoe hierdie nuwe medikasie op ’n molekulêre vlak werk en ons het bevestiging gekry dat dit uitsluitlik die stamselle teiken en die gesonde selle ongeskonde laat.”

Stamselle verdeel by gesonde mense in die beenmurg en groei om sodoende ontwikkelde, volwasse rooibloedselle, -plaatjies en witbloedselle te vorm. By mense met AML gebeur dit nie. Pleks daarvan word ’n groot getal abnormale leukemieselle vervaardig.

Maar die navorsers het ontdek vetmolekules in avokado’s, genaamd avokatin-B, kan hierdie proses stuit omdat dit stamselle teiken en die gesonde bloedselle dus kans kry om te groei. Danksy hierdie resultate het die span nou ’n patent ingedien om die medisyne, met avokado’s as basis, te ontwikkel.

© Cover Media