Die rookkoers onder jong Australiërs het in afgelope jare afgeneem, en nuwe navorsing toon ’n verbod op tabak-uitstallings in winkels het daartoe bygedra.

Die Kankerinstituut van Nieu-Suid-Wallis het ’n ondersoek aangevra na die uitwerking daarvan op medium termyn dat kleinhandelaars in twee state tabakprodukte buite sig hou van mense tussen 12 en 24.

“Ons bevindings dui daarop ’n verbod op uitstallings het ’n onmiddellike uitwerking op die jeug se blootstelling aan tabakpakkie-uitstallings, en het waarskynlik ’n uitwerking op rookverwante gevolge,” lui dit.

“Hierdie uitslae dui daarop die verwydering van tabak-uitstallings uit kleinhandelondernemings kan ’n positiewe bydrae lewer tot die denormalisering van rook onder jeugdiges.”

Vir die ondersoek is 6 000 jong mense ondervra voor en ná die verbod tussen 2010 en 2011 in Nieu-Suid-Wallis (NSW) en Queensland van krag geword het. Dit het ’n afname getoon in die bewustheid van sigarethandelsmerke nadat die verbod ingestel is.

Die getal jong mense wat minstens een handelsmerk kon onthou, het afgeneem van 65 tot 59 persent, berig die Journal of Nicotine and Tobacco Research.

David Currow, die uitvoerende hoof van die Kankerinstituut van NSW, sê daar word lank reeds vermoed tabak-uitstallings adverteer in werklikheid die handelsmerke.

“Ons het die rookkoers onder jong mense sien afneem van 15 tot 11 persent (tussen 2010 en 2012), die laagste tot dusver,” het hy aan die Australiese Uitsaaikorporasie gesê.

Hy sê die verslag toon ’n verbod op uitstallings by verkoopspunte – wat beteken sigarette is “weggesteek”, dikwels agter gewone luike – werk as deel van ’n uitgebreide strategie teen tabakgebruik.

“Die plaas van tabakprodukte buite sig help dit uit die gedagtes van jong mense neem, verlaag handelsmerk-herkenning, verminder die beskouing dat hul tydgenote rook en, belangrik nog, lewer ’n direkte bydrae om die rookkoers onder die jeug te verlaag,” sê hy.

’n Woordvoerder vir British American Tobacco in Australië sê ’n verbod op uitstallings in kleinhandelaars is al ’n hele ruk in heelparty state van krag en het nie die standvastige afwaartse neiging van verkoopsvolumes versnel nie; die hoë aksyns op tabak het die grootste invloed op verkope.

Australië het van die strengste tabakwette ter wêreld en was ’n baanbreker vir eenvoudige verpakking van sigarette in ’n poging om die rookgewoonte van sy glans te ontneem.