Gewoonlik sal iemand “gesondheid!” sê wanneer jy genies het. Maar het jy al ooit gewonder waar die gebruik vandaan kom?

Deur die jare heen was daar al soveel verskillende verduidelikings. Ene Alan Montague beweer dit dateer terug na die dae toe bygelowe hoogty gevier het. Daar is geglo ’n nies skei die siel van die liggaam. Om te keer dat die duiwel sy sielskwota op dié manier bekom, moes ’n mens die siel laat terugkeer na sy liggaam deur “God seën jou” te sê.

Lees ook: ‘Mansgriep’ bestaan regtig, verklaar die deskundiges

Jeremy Bassett van Briston in Engeland glo weer dit kom uit die tyd van die Groot Pes. ’n Nies was een van die eerste aanduidings van die dodelike siekte; daarom was dit gepas om dieselfde seën uit te spreek.

Pous Gregory VII het glo in die 14de eeu gevra dieselfde seën moet ná elke nies as ’n kort gebed opgesê word om mense teen die epidemie te beskerm.

Bill Chandler, ook van Engeland, sê ’n nies is gesien as ’n manier waarop die liggaam ontslae raak van die duiwel se invloed. Maar as die arme nieser dankie sê vir die seën, is geglo hy het die duiwel en sy invloed hartlik teruggenooi na sy liggaam.

Lees ook: Laat selfsug oorneem volgende keer as jy siek is

Die Grieke en Romeine het weer die teenoorgestelde geglo. Hulle het ’n nies as ’n teken van welstand gesien. Gewoonlik is die nieser ’n lang lewe toegewens of iets in der voege van “mag Jupiter jou seën”.

Japannese erken glo selde ’n nies, maar wanneer dit wel gedoen word, is die wens gewoonlik “pas jouself op”.

Die Russe se reaksies wissel van “wees gesond” tot “ek vertel die waarheid” wanneer iemand nies terwyl iemand anders praat.

Die Duitsers volstaan by “gesundheit”, wat in Afrikaans gesondheid beteken.

Die Franse tel weer elke nies. Ná die eerste een sê hulle glo “op jou wense”, ná die tweede “op jou liefdes” en “mag hulle vir ewig hou” ná die derde nies. Nog ’n nasie wat elke nies tel, is die Spanjaarde. Soms is dit “Jesus” ná die eerste nuus, “Maria” ná die tweede en “Josef” ná die derde, maar op ’n rits niese kan die reaksie “op jou gesondheid”, “geld” en “liefde” wees. Een van die snaaksste reaksies is waarskynlik dié van die Filippyne: “Haai! Ek het ’n bad gevat!” Dr. Jonathan Moss van die Charlotte-genote vir Oë, Ore, Neus en Keel beskryf ’n nies as iets wat in die meeste gevalle “ontwerp is om ontslae te raak van vreemde partikels en irritasies in jou lugweë, veral in jou neusholtes. Dis ’n beskermende refleks.”

Kitsfeite oor nies:

  • Jy nies nie wanneer jy slaap nie; jou “niessenuwees” slaap saam met jou.
  • Sover bekend hou Donna Griffiths van Worcestershire in Engeland die rekord vir die langste niesbui: 978 dae! Sy het van 13 Januarie 1981 naastenby ’n miljoen keer genies en haar eerste niesvrye dag daarna was 16 September 1983.
  • Jou hart stop glad nie wanneer jy nies nie; soms kan jou hartritme verander omdat jou bors saamtrek wanneer jy nies. Dit beperk tydelik die bloedvloei.
  • ’n Nies kan tot byna 161 km/h behaal.
  • Die bekende Mythbusters het ’n nies in stadige aksie verfilm om die afstand wat ’n nies trek, vas te stel.
  • Moet nooit ’n nies terughou nie. Dr. Michael Benninger, voorsitter van die Kop-en Nekinstituut by die Cleveland-kliniek sê hy van sy pasiënte het al gebarste oortromme, verrekte rugspiere en selfs gekraakte ribbes opgedoen omdat hulle nie wou nies nie.

Bronne: guardian.com, businessinsider.com, wikipedia.org, www.guinessworldrecords.com, time.com

- Saamgestel deur Annelene Oberholzer

Ander stories op Huisgenoot.com:

Meer oor daardie piepklein sakkie aan jou jeans

Wat is die gevaarlikste dier ter wêreld?

Hoe om te verseker jou testament sê presies wat jy wil hê dit moet sê

Skok wag op fietsdiewe – letterlik!

Tien heerlike pannekoekresepte vir Internasionale Pannekoekdag

Hoekom is daar ’n gaatjie bo-aan my Bic-pen se doppie?

Kyk: Rolene Strauss deel haar troufoto’s