Wetenskaplikes, gelei deur ’n span van Harvard se skool vir openbare gesondheid in Boston in die Amerikaanse deelstaat Massachusetts, het bevind mense wat groot volumes drank op een slag inkry, se kans op ’n hartaanval is meer as 70 persent hoër. Die eerste uur waarin jy drink, is die gevaarlikste en dit is die ergste vir mense wat gedurende die week niks drink nie, maar hulle vergryp sodra Vrydagaand aanbreek. Boonop het die soort drank wat ingeneem word, ook ’n uitwerking. Wyn en bier hou waarskynlik nie so ’n groot gevaar in nie, terwyl spiritualieë, onder meer vodka en whiskey, die ergste is.

Die bevindings dui ook daarop dat een drankie per dag nie die risiko vir ’n hartaanval verhoog nie.

Die bevindings dui ook daarop dat een drankie per dag nie die risiko vir ’n hartaanval verhoog nie.

Die span het navorsers uit die VSA, Kanada, Nederland en Australië ingesluit en hulle het byna 4 000 Amerikaners, wat reeds ’n hartaanval gehad het, bekyk. Die hoeveelheid alkohol wat hulle ingeneem het voor hulle siek geword het, is in ag geneem. Daar is ook gekyk of dit ongewoon was vir hulle en of dit hul gewoonte was.

Daar is ontdek dat ’n vergryp binne die eerste uur waarin gedrink word, die risiko vir ’n hartaanval met 72 persent verhoog. Die bevindings is in die vaktydskrif Epidemiology gepubliseer. Ná drie uur raak dit beter en ’n dag later het die gevaar na normaal teruggekeer.

Dis onduidelik hoe die soort drank die risiko beïnvloed, hoewel in die ondersoek aangevoer word mense wat spiritualieë drink, is dalk geneig om meer alkohol in te kry as dié wat bier of wyn verkies.

Die studie benadruk die belangrikheid daarvan dat ’n mens elke dag by die aanbevole hoeveelhede drank bly. In Brittanje is dit twee tot drie eenhede, of ’n gewone glas wyn per dag, vir vroue. Vir mans is dit drie tot vier eenhede, of ’n halfliter sterk bier.

© Cover Media