Daar is maniere waarop jou liggaam aandui dat iets verkeerd is en as jy ’n tekort aan voedingstowwe ervaar, kan dit maklik wees om te identifiseer as jy in harmonie is met jou liggaam.

Hier volg ’n paar van die maklikste maniere om ’n tekort raak te sien.

Yster

Yster is noodsaaklik vir die vervaardiging van rooibloedselle, en mense by wie bloedarmoede gediagnoseer is, sal weet hulle moet hul ystervlakke hoog hou.

Maar almal is nie hiervan bewus nie; dus moet jy op die uitkyk wees na gevaartekens. Moegheid, ’n bleek en dowwe vel en dun hare is almal simptome hiervan.

Die minder algemene tekens is gebarste lippe en ’n geswelde tong, angsgevoelens, tintelende en rustelose bene, naels wat insak en selfs ’n smagting na klei en grond.

Eet onder meer pampoen- en sonneblompitte, kasjoeneute, lensies, sojabone, bruinrys en graankosse, wat met yster versterk is.

Lees ook: Vitamien B3 kan negatiewe gevolge van ongesonde eetgewoontes help teenwerk

Magnesium

Mense met ’n magnesiumtekort kan agterkom hulle het 'n swak aptyt of hulle voel mislik en braak gedurig.

Moegheid en swakheid is weer tekens, terwyl ernstiger gevalle gevoelloosheid, spierkrampe, abnormale hartritmes en stuiptrekkings veroorsaak.

Voedsel wat propvol magnesium is, sluit in spinasie, neute (veral amandels, kasjoeneute en grondbone), bone en avokado’s.

Maar hou matigheid voor oë, want te veel magnesium in die dieet kan diarree veroorsaak.

Kalsium

Ons het kleintyd gehoor ons het kalsium nodig vir sterk tande en bene, en suiwelprodukte is een van die beste bronne daarvan.

Volwassenes het egter 'n neiging om hul rug op suiwelprodukte te draai en liewer die plantaardige alternatief te kies.

Dit kan tot ’n tekort lei en dan voel ons moeg, ons spiere kramp, ons eetlus neem af en ons kry abnormale hartritmes.

Tradisionele kosse, soos jogurt, melk en kaas, sal jou kalsiumvlakke aanhelp, en diegene wat nie suiwelprodukte eet nie, moet aan donker blaargroente kou en lemoensap drink wat met kalsium verryk is.

Lees ook: So kan ’n hoëvetdieet jou gesondheid skaad

Vitamien B12

Jou lyf gaan op tallose maniere aandui dit kry nie genoeg B12 in nie: gebarste mondhoeke, ’n tinteling in jou hande en voete, probleme met balans en loop, bloedarmoede en moegheid.

Kos met ’n diere-oorsprong, van vleis tot melk, bevat die vitamien, maar as jy ’n vegetariese of veganistiese dieet volg, moet jy liewer kos kies wat met B12 verryk is.

Omega-3

Olieryke vis is vol van die omega-3-vetsuur, en dit is goeie voedsel vir die brein.

As jou liggaam nie genoeg hiervan inkry nie, sal jy dit agterkom aan jou growwe, knopperige vel, droë, dowwe hare, naels wat afskilfer, aanhoudende dors en urinering, slaap- en aandagsprobleme, depressie of wisselvallige gemoedstemmings en angstigheid.

Bo en behalwe byvoegings, moet jy meer omega-3 by jou dieet voeg deur geregte te eet wat salm, sardiens en okkerneute bevat.

© Cover Media