Ongelukke gebeur in ’n oogwink en klein kinders wat sonder jou wete pille inkry, is een van ouers se grootste nagmerries. Tog is daar een pil wat rooi ligte laat flits by dokters, verduidelik die Nasionale Gifinligtingsentrum aan Huisgenoot.

Ysteraanvullings is die een waaroor ons ons die meeste bekommer,” sê die sentrum. Die pille smaak glo van nature sleg en word daarom met ’n suikerlagie bedek. Dit is dikwels rooi en lyk daarom vir kinders nes lekkers.

’n Oordosis ysteraanvullings kan onder meer lei tot naarheid, maagpyn en ontwatering en selfs tot die dood, as dit nie behandel word nie.

“Ons beveel nie aan dat ouers hul kinders laat braak nie. Bel liewer die noodlyn wat 24 uur per dag beman word, en vra die kenners se raad,” sê die sentrum.

Die sentrum voeg by dat kinders dikwels pille inkry wanneer ouers die pille uit die oorspronklike houer haal en in iets anders berg.

“Die beskermende houer is daar vir ’n rede en word so ontwerp dat kinders dit nie kan oopmaak nie, maar dikwels is ouers nie lus om elke keer met die seël te sukkel nie en bêre hulle dan die pille in iets anders.” Dis dikwels dan dat die moeilikheid kom.

As jou kind pille ingekry het, moet jy dadelik die landwye hulplyn bel, wat jou raad sal kan gee oor wat om te doen.

Die dienslyn word 24 uur per dag beman. Bel hulle by 0862-555-777.