Die gesegde lui: “’n Appel per dag laat die dokter wag,” en nou is met nuwe navorsing bevind appels – veral die skil – kan voorkom dat ouer mense se spierweefsel verminder.

’n Chemikalie in die skil genaamd ursolsur kan binne net twee maande veroudering van bejaardes se spiere help vertraag.

Wetenskaplikes aan die Universiteit van Iowa sê in die Journal of Biological Chemistry hulle glo appels en groen tamaties het dieselfde natuurlike chemiese eienskappe en hulle hoop dit kan lei tot nuwe behandeling vir pensioentrekkers om hulle langer aktief te hou.

’n Proteïen genaamd ATF4 veroorsaak die agteruitgang van spiere by ouer mense omdat dit die vorming van gene verander. So word spiere ontneem van proteïen wat hulle nodig het om sterk te bly. Dit lei tot die verlies aan massa en sterkte.

Daar word geglo ursolsuur in appels en tomatidien in groen tamaties kan die aktiwiteit van ATF4 verminder.

“Baie van ons weet uit ons ervaring dat spierswakheid en atrofie groot probleme is wanneer mens ouer word,” het Christopher Adams, professor in inwendige medisyne en hoofskrywer van die studie, gesê. “Hierdie probleme het ’n groot impak op ons lewenskwaliteit en gesondheid.”

Vroeë toetse op ouer muise het getoon ursolsuur en tomatidien “verminder ouderdomsverwante spierswakheid en atrofie dramaties”. Dit het ook ná twee maande die spiermassa en “spierkwaliteit” met 10 persent verhoog.

“Gebaseer op hierdie resultate lyk dit asof ursolsuur en tomatidien baie potensiaal het as werktuie om spierswakheid en atrofie tydens veroudering te behandel,” het prof. Adams bygevoeg.

“Deur ATF4-aktiwiteit te verminder kan ursolsuur en tomatidien skeletspiere help herstel van die uitwerking van veroudering.”

© Cover Media