UIT DR. ADELAIDE SE SPREEKKAMER

Droë oë is ’n baie algemene oogtoestand wat ’n groot uitwerking op jou lewe kan hê. Mense verwar dikwels die simptome met ’n oogontsteking of allergie.

Simptome

  • Rooi oë.
  • Oë wat brand, seer is of krapperig voel.
  • Moeë oë.
  • Oë wat sukkel om te fokus.
  • Droogheid word gewoonlik veroorsaak deur te min traanafskeiding, wat lei tot onvoldoende smeermiddel in die oë.

Algemene oorsake

  • Ouderdom.
  • Menopouse.
  •  ’n Droë klimaat of binnenshuiseverhitting.
  • Sigaretrook.
  • Langtermyn-dra van kontaklense.
  • Lang ure voor ’n rekenaar, televisie of boeke.
  • Ooglede wat onvolledig sluit.
  • Newe-effekte van medikasie soos antihistamiene, antidepressante, kalmeerpille, betablokkeerders, diuretika, medikasie vir Parkinsonsiekte en orale voorbehoedmiddels.

Die behandeling berus hoofsaaklik op die gebruik van oogdruppels wat as ’n plaasvervanger vir trane optree. Die normale traanlagie bestaan uit ’n slymerige lagie, ’n waterlagie en ’n buitenste olielagie om verdamping te voorkom. Die meeste traanplaasvervangers vervang die waterlagie. Dit verskaf goeie simptoomverligting, maar moet gereeld gebruik word.

Stuur jou gesondheidsvrae na gesondheid@huisgenoot.co.za.