Amper alle tieners sal tydens adolessensie ’n mate van aknee ontwikkel.

Dit begin gewoonlik tydens puberteit en klaar eers teen die laat tienerjare tot vroeë 20’s op.

Aknee word gekenmerk deur ’n olierige vel, swartkoppies en puisies wat meestal op die gesig, maar ook op die rug en bors voorkom.

Oorsake

  • Hormonale veranderinge tydens pubertyd veroorsaak stimulasie van die oliekliere in die vel, wat lei tot verstopte porieë, inflammasie en bakteriële infeksie.
  • Dieet speel nie ’n direkte rol nie.
  • Seuns het dikwels erger aknee en genetika speel ’n rol.
  • Kwaai aknee kan onooglike littekens veroorsaak en ook ’n enorme sielkundige impak hê.
  • Die meeste gevalle is nie ernstig nie en sal spontaan opklaar deur ’n eenvoudige velreinigingsroetine te volg.

Behandeling

Behandeling direk op die vel werk vir minder kwaai vorms van aknee. Produkte wat antibiotika, bensielperoksied, salisielsuur en retinoïed bevat, is beskikbaar.

Erger aknee moet met orale medikasie behandel word. Verskeie soorte antibiotika wat drie tot ses maande gebruik kan word, is op voorskrif beskikbaar.

Meisies kan ook baat vind by die gebruik van die voorbehoedpil.

Kwaai aknee wat met siste en littekens gepaardgaan, behoort met orale retinoïed (soos Roacutane, Oratane of Acnetane) behandel te word. Die behandeling is uiters suksesvol, maar weens moontlike newe-effekte moet behandeling deur ’n mediese dokter gemonitor word.