Eerstens, elke dieet kort ’n sekere hoeveelheid vet. Ons praat nie hier van versadigde vet wat in wegneemkos en pizza gevind word nie, maar goeie, natuurlike vet wat hartgesondheid bevorder en jou energie gee. Dis dus verkeerd om avokado’s te vermy omdat jy bekommerd is dat dit jou gewig sal laat aansit. Ons sê nie jy moet oorboord gaan nie, maar een per dag is heeltemal in die haak en gesond.
Dis dus verkeerd om avokado’s te vermy omdat jy bekommerd is dat dit jou gewig sal laat aansit.

Avokado’s is propvol voedingstowwe. Daar is onder meer 14 minerale, proteïene met 18 noodsaaklike aminosure en vesel in die groen vrug, asook omega-3 en vitamiene C, E, B en K. Dit sal jou langer versadig hou en jou lus vir peuselhappies in toom hou.

Anders as baie ander superkosse, is dit ook baie maklik om avokado’s by jou dieet in te werk. Dit werk met soveel ander dele van jou ete en is ’n wonderlike manier om jou vyf vrugte per dag in te kry.

Hoe kan jy dan een-avokado-per-dag ’n werklikheid maak? As jy tyd vir ’n groot ontbyt het, begin daar. Dis wonderlik op volkoring-roosterbrood met roereiers en tamaties – nommerpas om jou dag mee te begin.

As jy verkies om dit vir middagete in te pak, kan jy dit in ’n gesonde slaai probeer. Geposjeerde salm werk uitstekend met avokado – voeg net blaarslaai, tamatie en boontjies by en bedruip met ’n bietjie slaaisous. Jy kan dit ook met hoender vir aandete eet. Dit werk in allerhande vorms; raak dus kreatief!

Wenk: Koop elke paar dae vars avokado’s en moenie dit sny as jy nie alles gaan gebruik nie, want dit raak baie gou bruin.

© Cover Media