Om enkellopend te wees hou heelwat voordele in: van nie jou bed met iemand hoef te deel nie tot uitgaan en flankeer.

Maar in ’n onlangse studie is bevind ’n gesonde dieet maak nie deel uit van hierdie bestaan nie, aangesien mense wat nie ’n maat het nie en alleen woon, vermoedelik meer geneig is om gewig aan te sit.

Wetenskaplikes aan Queensland se Universiteit van Tegnologie (QUT) het bevind mense wat alleen woon, is meer geneig om sleg te eet. Ander faktore, soos swak kookvernuf, die verhoogde koste van kos en die afwesigheid van ’n wederhelf om te help met die kosinkopies, dra ook by tot dié probleem. Dr. Katherine Hanna en dr. Peter Collins, van QUT se skool van oefening en voedingswetenskappe, het 14 vorige studiestukke ingespan om hulle te help om ’n verband te vind tussen alleen woon en voedselbestanddele en -inname. Dis die eerste uitgebreide navorsing wat hierdie verband ondersoek; die bevindings is in die vaktydskrif Nutrition Reviews gepubliseer.

Swak eetgewoontes kom meer by mans voor as by vroue

Daar is opgemerk dat swak eetgewoontes meer by mans voorgekom het as by vroue.

“Ons resultate het getoon dat mense wat alleen woon, ’n kleiner verskeidenheid voedsel eet en minder van die kernvoedselgroepe, soos vrugte, groente en vis, inkry,” het Hanna verduidelik.

“In die navorsing word beweer alleen woon stel moontlik ’n hindernis daar vir gesond eet, wat verwant is aan kulturele en sosiale rolle in verband met kos en kookkuns. ’n Gebrek aan motivering en genieting van kos en/of alleen eet lei dikwels daartoe dat mense eenvoudige of klaargaar maaltye, met ’n tekort aan kernvoedingstowwe, berei.”

Die alleenwoners het gewissel ten opsigte van ouderdom, opleiding en sosiaal-ekonomiese faktore, en hulle almal het uiteenlopende redes gehad waarom hulle nie gesonde maaltye kon berei nie.

Hanna sê mense wat iemand verloor het of geskei is, het dikwels op hul eksmaat gesteun vir die bereiding van maaltye; sonder die maat is hulle nie kundig genoeg om dit self te doen nie. Sy het ook wenke gegee vir dié probleem.

“Dit het programme ingesluit wat die klem lê op kookvaardighede vir alleenlopers met uiteenlopende begrotings, asook verbeterde beskikbaarheid van bekostigbare, gesonde kos en die ontwikkeling van sosiaal aanvaarbare geleenthede om in ’n gemeenskaplike omgewing te eet,” het sy bygevoeg.

© Cover Media