As iemand wat oor ’n lang tydperk baie alkohol gedrink het, skielik ophou, sal daardie mens onttrekkingsimptome ervaar.

Alkohol-onttrekkingsimptome ontwikkel gewoonlik binne 12 tot 48 uur ná die staking van alkohol-inname.

Simptome

  • Sweet.
  • Naarheid.
  • Bewerigheid.
  • Algemene swakheid.
  • Stuiptrekkings.
  • Hallusinasies.
  • Angstigheid, wat ’n hele paar dae kan duur.

Delirium tremens (DT, of in die omgang “die horries” genoem) is ’n ernstiger gevolg van alkohol-onttrekking. Dit ontwikkel gewoonlik later, twee tot 10 dae nadat alkohol-inname gestaak is.

Simptome van DT

  • Angs en verwarring.
  • Nagmerries en slapeloosheid.
  • Uitermate sweet.
  • Terneergedruktheid en depressie.
  • Vinnige polsslag, koors, hallusinasies en toenemende verwardheid.
  • Die hele liggaam word ongekoördineer en bewe.

Dit kan lewensgevaarlik wees as iemand die horries kry en dit nie behandel word nie.

Hoewel dit gewens is dat swaar drinkers en alkoholiste ophou drink, moet die proses versigtig aangepak word met die nodige mediese ondersteuning. Familielede moet vinnig optree as DT vermoed word en mediese hulp kry.

Die beste manier om alkoholmisbruik en alkoholisme te hanteer is om in ’n rehabilitasiekliniek opgeneem te word.

Dit is gevaarlik om self op te hou, en sonder ’n goeie rehabilitasieprogram verval die meeste alkoholmisbruikers vinnig terug in hul ou drinkgewoontes.