Kanadese navorsers aan die Universiteit van Victoria se Sentrum vir Verslawingstudies van Brits-Columbië (CARBC) het vaktydskrifartikels oor alkohol en energiedrankies versamel wat tussen 1981 en 2016 deur portuurgroepe hersien is.

Tien van die studies het aan hulle ’n verband getoon tussen die inname van alkohol wat met energiedrankies gemeng is (AgED) en ’n verhoogde risiko vir beserings in vergelyking met die inname van net alkohol.

“Die stimulerende uitwerking van kafeïen verdoesel die uitwerking wat die meeste mense ervaar wanneer hulle drink,” sê Audra Roemer, hoofnavorser.

“As jy alkohol gedrink het, raak jy gewoonlik moeg en jy gaan huis toe. Energiedrankies verdoesel dit, dus besef mense nie presies hoe dronk hulle is nie en hulle bly later uit, neem meer alkohol in en word blootgestel aan meer riskante gedrag en gevaarliker drinkgewoontes."

Volgens die studie val die beserings in twee kategorieë, naamlik doelbewus, in die geval van bakleiery en ander liggaamlike geweld; en nie-doelbewus, byvoorbeeld waar jy val of in ’n motorongeluk betrokke is.

Die gebruik van AgED is in baie lande gewild. Sommige verbruikers verkies om dit as vooraf gemengde drankies by drankwinkels te koop; ander meng dit self. Wodka en Red Bull is ’n algemene voorbeeld hiervan.

“Ons weet dat hierdie praktyke risiko-faktore is by alkoholverwante beserings, en navorsing het aangedui dat mense wat hierdie neiging toon, moontlik die wakker-dronk-gevoel verkies wat jy kry wanneer jy alkohol en energiedrankies meng,” het Audra verduidelik. Hierdie deel van die bevolking kan ’n hoër risiko hê vir beserings.”

Audra en haar kollegas was hewig geskok oor die gebrek aan navorsing op hierdie gebied, sowel as die gebreke in die studies wat die vergelyking van bevindings bemoeilik het. Die gevolg hiervan was dat die span nie die omvang van die risiko kon bepaal wat met die gebruik van AgED gepaardgaan nie.

“Ons het ten einde laaste na al die studies gekyk, maar nog navorsing is nodig om ons bevindings te bevestig,” het sy gesê.

Die volledige studie is in die Journal of Studies on Alcohol and Drugs gepubliseer.

© Cover Media