Pterigium

Dit is skadelose maar lastige groeisels op die konjunktiva (die wit deel van die oog).

Dit kom aan die neuskant van die oog voor en het dikwels ’n driehoekige vorm. Die groeisels lyk soos ’n vlies wat rooi, geswel en krapperig kan wees. Die presiese oorsaak is onbekend, maar ultravioletstrale van die son, droë oë en stof speel ’n rol.

Die enigste spesifieke behandeling is om die groeisels deur ’n spesialis te laat verwyder, maar omdat hulle onskadelik is, word dit net aanbeveel as hulle oor die kornea (deursigtige deel) van die oog begin groei.

Irritasie kan beheer word met die gereelde gebruik van bevogtigende oogdruppels en die oorsake uit te skakel deur byvoorbeeld ’n goeie sonbril te dra.

Meibom se sist

Meibom se sist is ’n swelling wat ontwikkel weens ’n verstopte kliertjie in die ooglid, gewoonlik die boonste lid. Meibom se kliere maak die smeermiddel wat in trane voorkom.

Die sist kom voor as ’n pynlose nodule en veroorsaak min simptome, behalwe wanneer infeksie intree. Die swelling word dan groter, rooi en seer.

Redes vir die verstopte kliertjies is onbekend en in 30 persent van gevalle gaan dit ná drie tot ses maande vanself weg. Massering en hitteaanwending (’n warm teelepel werk goed) help soms.

Infeksie moet met antibiotika behandel word en chirurgiese dreinering is soms nodig.