Navorsers aan die Universiteit van Kaapstad (UK) het onlangs bekendgemaak dat ’n spesifieke samestelling in gekneusde knoffel met kankerselle kan afreken.

Hierdie samestelling staan as ajoene bekend.

’n Dosent aan die universiteit, Catherine Kaschula, verduidelik dat knoffel al eeue lank as volksmedisyne ingespan word vanweë die gesondheidsvoordele wat dit inhou.

Dit is glo nie net voordelig as kankerbestryder nie, maar help ook om die liggaam teen infeksies en hartsiektes te beskerm.

Catherine sê sy en haar navorsingspan by die UK het ’n tegniek ontwikkel om op ’n sintetiese manier by die ajoene (die aktiewe kankerbestrydende samestelling) in die knoffel uit te kom.

So kon hulle sonder twyfel bepaal dat die ajoene in die knoffel die kankerselle doodmaak.

Die volgende stap sal wees om te bepaal watter proteïene in die kankersel deur die anjoene aangeval word.

Bronne: TimesLIVE; Independent Online