Volgens prof. Maritha Kotze, genetikus aan die Universiteit Stellenbosch, word ongeveer 15 persent van alle kankersoorte, insluitend borskanker, oorgeërf. Net twee gene, bekend as BRCA1 en 2, is vir die meeste gevalle van oorgeërfde borskanker verantwoordelik.

In 2013 het toetsing van gene onthul die aktrise Angelina Jolie dra die BRCA1-geen. Aangesien sy kort tevore haar ma weens kanker verloor het, het die ster verkies om ’n voorkomende dubbele mastektomie te ondergaan ten einde te verhoed dat sy borskanker kry.

’n Nuwe navorsingstudie wat Dinsdag by die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se konferensie Navorsing in Aksie op Stellenbosch aangebied is, het getoon hierdie potensieel dodelike gene kom in der waarheid moontlik oorwegend by Afrikaner-kankerpasiënte voor. Volgens die navorsing dra 67 persent van Afrikaanse borskankerpasiënte uit hoërisiko-families wat nagevors is, ten minste een van die gene terwyl daar volgens Lizette Jansen van Rensburg, ’n professor in genetika aan die Universiteit van Pretoria, in die geval van BRCA-verwante kankersoorte net agt persent borskankergevalle onder swart vroue voorgekom het. Volgens die jongste beskikbare data van die Nasionale Kankerregistrasie, wat van 2009 dateer, het vroue uit Asië die hoogste kans op borskanker, met wit, en daarna bruin vroue, kort op hul hakke. Volgens die data het swart vroue die geringste risiko op borskanker.

'Gene speel nie alleen ’n belangrike rol in die ontwikkeling van borskanker by vroue nie.'

Nuwe navorsing dui ook aan gene alleen speel nie ’n belangrike rol in die ontwikkeling van borskanker by vroue nie, maar dit het ’n impak op watter soort behandeling die beste resultate sal gee. Dit het die vermoë om die veld van verpersoonlikte behandeling in Suid-Afrika oop te stel.

Kotze se navorsing het getoon kankersoorte wat deur verskillende gene veroorsaak word, kan verskillend reageer op verskillende soorte terapie. Dit skep die moontlikheid dat behandeling vir pasiënte aangepas kan word. Dit kan gegrond word op gevorderde mikro-opstellingstegnologie en volgendegenerasie-opvolging.

’n Webtuiste (gknowmix.com) is met die steun van die Mediese Navorsingsraad ontwikkel om pasiënte en dokters by te staan met die identifisering van genetiese toetsing waarby pasiënte moontlik kan baat vind.

“Ons streef daarna om eendag aan elke pasiënt ’n geneesmiddel te kan gee wat die gene van hul gewas spesifiek kan teiken,” het Kotze gesê.

Bron: Health-e News