“As genetiese studies die teenwoordigheid van ’n stigtereffek vir Parkinson-siekte  (PS) bevestig, impliseer dit ’n groot aantal individue in dié etniese groep loop die risiko om dié uitmergelende siekte op te doen,” lui die studie, wat onlangs in die SA Medical Journal gepubliseer is.

Stamboomnavorsing oor oorerflike siektes is uitgevoer en PS in Afrikaners is na ’n spesifieke stampaar teruggevoer.

“Gegewe die bewyse van die stigtereffek vir ander siektes in die Afrikaner-bevolking, wou ons vasstel of ’n stigtereffek ook vir PS in die bevolking bestaan.”

’n Stigtereffek ontstaan wanneer ’n klein deelversameling van ’n groot bevolking ’n nuwe bevolking tot stand bring.

“In die geval van Afrikaners dui die siektes wat ongewoon gereeld voorkom daarop die Nederlandse, Franse en Duitse koloniste wat oorspronlik in die Kaap kom vestig het, het die siektedraende gene gedra.”

Deelnemers aan die studie is gewerf uit die Movement Disorders Clinic by die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad en van verskeie ondersteuningsgroepe van die Parkinson-vereniging van Suid-Afrika.

“Nadat die stambome van die eerste 12 families saamgestel is, het dit aan die lig gekom dat ’n enkele stampaar in dié gesinne gemeen was.”

“Toe die paar in die eerste 12 families uitgeken is, kon ’n verbintenis na die paar in nog 28 families bevestig word waar daar genoeg stamboominligting beskikbaar was om verwantskap te identifiseer.”

Navorsers het bevind 40 Afrikaner-PS-lyers is afstammelinge van die stampaar en dat daar gemiddeld drie of vier stamboomlyne is vir elke PS-lyer. -Sapa