Wanneer jy goor of moeg voel en lus het vir sjokolade, verkwalik jy gou jou hormone. Maar hoewel ons dié verskoning maklik gebruik, steek daar dalk waarheid in.

Deurmekaar hormone kan regtig die oorsaak wees vir veranderinge in jou liggaam en hoe jy voel. Maar watter hormone veroorsaak watter simptome en waarna moet jy uitkyk?

Een van die belangrikste aanduiders is uiterste veranderinge in energie. Borrel jy die een oomblik oor van energie en sit dan kort daarna boeglam by jou lessenaar? Dit is dalk weens jou kortisolvlakke. Dit kan jou laat voel of jy op ’n wipwarit is, wat jou waarskynlik nog meer sal laat stres.

Kortisol kan ook ’n mens se geslagsdrang laat taan. By die meeste vroue hou ’n gebrek aan libido verband met hormone. Lae estrogeen is dikwels die oorsaak, asook stres en ’n gebrek aan slaap. Dit alles werk saam en later wil jy net in die bed opkrul en slaap.

Die meeste vroue eet meer sjokolade tydens hul maandstonde en verkwalik hul hormone daarvoor. Maar as jy ander tye van die maand gedurig na suiker smag, kan dit beteken hoë vlakke kortisol of insulien is die sondaars. Dit kan maak dat jy na soetgoed en wyn gryp, terwyl bynier-onreëlmatigheid jou kan laat lus kry vir soutgoed.

Gemoedskommelings kan ook toeslaan wanneer jy nie jou maandstonde het nie. Dit kan deel wees van ’n normale lewe, maar sodra jy agterkom jy raak gereeld kwaad of huilerig, moet jy jou hormone van naderby bekyk.

As enige van jou simptome ernstig is, moet jy jou huisdokter vra om toetse te doen. Maar daar is ook eenvoudige goed wat jy kan doen om jou hormone onder beheer te kry. Dr. Sara Gottfried sê op mindbodygreen.com ’n goeie nagrus is die sleutel tot gelukkige hormone. Sy voeg by ’n glutenvrye dieet kan ook estrogeen help balanseer.

Nog ’n belangrike oorweging is stres. Stel vas watter lewensgebiede jou die meeste bekommernis besorg en durf hulle een-een aan. Kyk ook wat dit is wat jou kalm help hou: Vir party is dit ’n ontspannende borrelbad of ’n telefoongesprek met ’n vriend of vriendin, terwyl ander joga, meditasie of oefening geniet.

© Cover Media