1. Kry die regte skoene. Hardloop – veral op ’n pad – is harde werk vir jou voete en bene en die regte skoene is noodsaaklik. Gaan ’n spesialiteit-sportwinkel waar iemand wat ingelig is jou kan raadgee oor die regte hardloopskoen vir jou. Ja, dit gaan jou ’n hele paar rand uit die sak jaag, maar jou lyf sal  jou ewig dankbaar wees!
  2. Begin stadig. Dit help nie jy hardloop op jou eerste oefen-dag so ver dat jy nooit weer jou drafskoene wil aantrek nie! Moenie jouself teen enigiemand anders meet nie. Begin stadig. Stel vir jouself ’n eenvoudige mikpunt om drie dae agtereenvolgens te gaan hardloop, al is dit net vir 10 minute. Sodra dit deel is van jou roetine kan jy die afstand stadig begin vermeerder.
  3. Beplan! Besluit wanneer, waar en hoe ver jy wil draf en skryf dit in jou dagboek. As jy elke dag gaan wag tot kort voor jou oefentyd gaan jy baie verskonings kan uitdink… “Nie vandag nie, ek sal môre gaan…” Maar as dit eers in die dagboek staan is dit deel van jou program. En moenie vergeet om rusdae in jou program in te werk nie. Dan kan jy sonder enige skuldgevoelens op die bank bly!
  4. Stel vir jouself doelwitte. Jy hoef nie die Comrades te voltooi om te voel asof jy iets bereik het nie. Jou doelwitte is jou eie. Skryf in vir ’n pretloop van 5km of 10km, gee jouself genoeg tyd om te oefen, en plak die foto van jou met jou eerste medalje op jou yskas as motivering vir die volgende een!
  5. Hou dit interessant. Dieselfde roete oor en oor raak gou vervelig. Wissel jou afstande en roetes af. As jy op ’n Woensdag ’n woeste bult aanpak, beloon jouself volgende keer met ’n lekker plat roete. En probeer ten minste een keer ’n week op ’n mooi plek gaan hardloop, selfs al beteken dit jy moet eers ’n ent met jou kar ry.
  6. Kry ’n maat! Selfs al is dit iemand wat korter of langer as jy wil oefen of vinniger of stadiger as jy hardloop – dit help om iemand te hê wat vir jou wag by die beginpunt en (baie belangrik!) gaan weet as jy nie opdaag nie!

Suzaan Hauman