Kardiovaskulêre siekte is ’n ernstige saak. Statistiek toon sowat 130 hartaanvalle en 240 beroerte-aanvalle gebeur daagliks in Suid-Afrika.

Sommige van die leefstyl-faktore wat jy kan verander, is rook, hoeveel jy oefen, jou alkohol-inname en ’n swak dieet. Faktore wat nie verband hou met jou leefstyl nie, en wat jy nie kan verander nie, is byvoorbeeld geslag, ouderdom en familiegeskiedenis van kardiovaskulêre siektes.

Om ’n laevet-dieet te volg is ’n goeie beginpunt. Naazneen Khan, ’n voedings- en gesondheidbestuurder by Nestlé Suid-Afrika, gee die volgende wenke:

  1. Nie alle vette is dieselfde nie. Onversadigde vette word as gesond beskou (soos olyf- en canola-olie, avokado, omega-3).
  2. Versadigde vette en transvette word as ongesond beskou (soos botter, kaas en room). Dit behoort beperk te word.
  3. Die aanbevole dieetriglyne stel voor ’n vyfde tot ’n derde van jou algehele energie behoort uit vet te kom, met minder as ’n tiende van jou energie uit versadigde vette.
  4. Moenie aanvaar alle voedsel waarop die woord Light verskyn is laag in vet of kilojoules/kalorieë nie. Die woord Light of Lite op ’n voedseletiket kan ook beteken die kos is lig in vet, lig in sout, lig in kleur of selfs lig in smaak.
  5. 5 g vet is gelyk aan een teelepel vet (dink aan ’n teelepel botter). As ’n voedseletiket sê daar is 30 g vet in ’n porsie, beteken dit jy sal gelykstaande aan ses teelepels botter eet. Dis baie; soek na ’n ander produk met minder vet.
  6. 5 g suiker is gelyk aan een teelepel suiker. As jy ’n blikkie koeldrank met 40 g suiker drink, is dit gelykstaande daaraan om agt teelepels suiker in te neem. Kies liewer ’n ander soort drankie of dieetdrankie as jy jou kilojoule-inname wil beperk. Water is altyd die beste.

Bron: Naazneen Khan namens Nestlé Suid-Afrika. Vir nog goeie wenke oor ’n gesonde dieet, besoek die voeding-, gesondheid- en welsyntabelle op Nestlé se webtuiste by www.nestle.co.za/nhw