As dit by diëte kom, lyk die keuses eindeloos: van Atkins tot die 5:2; paleo tot Weight Watchers – dis maklik om sommer net voor die voet een te kies.

Maar om sommer enige maaltydplan te kies, mag rampspoedig wees en vreemde reaksies in jou liggaam ontketen, en sodoende die versoeking nog groter maak om die handdoek in te gooi en na daardie sjokoladestafie te gryp.

Shaun T, aanbieder van die Amerikaanse televisieprogram, My Diet Is Better Than Yours, het die vyf belangrikste waarskuwingstekens dat die dieet wat jy volg, nie die regte een vir jou is nie, opgesom:

1. Jy geniet dit nie

Eet is veronderstel om pret te wees, en terwyl kool dalk nie so opwindend mag voorkom soos pizza nie, behoort jy nie etenstye te vrees nie. Dit is belangrik om ? dieet te vind wat op die lang termyn volhoubaar is, wat beteken dat dit ten minste sekere kosse insluit waarvan jy baie hou.

2. Jy voel opgeblaas

Dit is 'n seker teken dat die kos wat jy eet, nie met jou akkordeer nie. As jy probleme soos pyn en opgeblaasheid in jou ingewande ervaar, moet jy begin om sekere kosse te uit te skakel om sodoende die sondebokke te elimineer. As die simptome steeds nie verbeter nie, gaan spreek 'n dokter.

3. Jy is moeg

Kos is brandstof! Dit behoort jou vol energie te hou en, tesame met gereelde oefening, deur die dag te help. Dis normaal om effens moeg te voel nadat jy suiker en/of kafeïen uitgeskakel het, maar as die traagheid voortduur, het jy nie die regte dieet gevind nie.

4. Jy is gedurig buierig en honger

As jy gedurig honger is en/of gemoedskommelings ervaar, kan dit wees dat die kos of die porsies nie heeltemal reg is vir jou nie. Diëte behoort 'n positiewe impak op jou lewe te hê, en dit beteken nie dat jy almal om jou se koppe wil afbyt nie!

5. Jy verloor nie gewig nie

As jy 'n dieet getrou gevolg het en 10 dae lank gereeld oefeninge gedoen het, behoort jy resultate te begin ervaar. As jy in hierdie tydsverloop geen gewig verloor het nie, moet jy jou dieët heroorweeg.

Die belangrikste ding is om nie gedruk te voel wanneer jy 'n dieet kies nie. Jy mag voel alle oë is op jou, maar dit is baie meer doeltreffend om 'n voedselplan te kry waarby jy oor die langtermyn kan hou as 'n kitsdieet wat op 'n mislukking uitloop.

As jy hulp nodig het, kry raad van 'n dieëtkundige.

© Cover Media

Lees ook:

Raak só vanjaar by jou eie huis fiks

Dié wondermiddel kan jou vanjaar maer maak