1) Ek het verlede jaar ’n griepinspuiting gekry. Moet ek weer een kry?

Beslis. Die soorte griep wat in ’n bepaalde jaar sirkuleer, verskil moontlik van dié wat in ander jare sirkuleer. Boonop verander mense van jaar tot jaar, wat beteken jou reaksie op ’n virusinfeksie kan van een jaar tot die volgende verskil. Aangesien vanjaar se griepsoort ’n besonder nare een is, is dit raadsaam om ingeënt te word.

2) Kan ek tot later in die griepseisoen wag om ’n griepinspuiting te kry sodat die werksaamheid daarvan nie afneem nie?

Dit sal net die risiko vir griep verhoog. Die inenting werk vir die volle duur van die griepseisoen; daarom is dit beter om vroeër eerder as later een te kry.

3) Kan ’n griepinspuiting my griep gee?

Nee. Die virusse in griepinspuitings word tydens die produksie van die entstof verflou, wat beteken hulle kan nie ’n infeksie veroorsaak nie. Party mense ervaar teerheid waar hulle ingespuit is, maar dit gaan gewoonlik ná twee dae weg. Jy sal dalk griepagtige simptome ervaar, maar dit kan veroorsaak word deur die immuunstelsel wat teenliggaampies vervaardig om griep te help afweer.

4) Ek het griepinspuiting gekry, dus is enige verdere beskerming teen griep onnodig.

Dis nie ’n goeie idee nie. Al verminder ’n griepinspuiting jou kanse om griep te kry, is dit nie al manier om die risiko te verminder om die virus te kry nie. Maklike gedragsveranderinge help ook om griepvry te bly: Vermy mense wat griep het, was jou hande gereeld en oorweeg dit om immuunversterkers en antivirale medikasie te neem om jou beskerming te verhoog.

5) Ek is gesond en het nog nooit griep gekry nie, so ek hoef nie ’n griepinspuiting te kry nie.

Volgens huidige riglyne behoort kinders van ses maande tot 19 jaar, mense wat aan ’n chroniese kwaal ly, swanger vroue en almal ouer as 49 elke jaar ingeënt te word. As jy in ’n omgewing werk of woon waar jy iemand kan aansteek wat vatbaar is vir griep, is dit raadsaam om ’n griepinspuiting te kry. Dis veral belangrik vir kinderoppassers, gesondheidswerkers en mense wat bejaardes versorg.

6) Die griepinspuiting sal my swangerskap beïnvloed.

Die griepinspuiting is ’n “noodsaaklike element van voorgeboortelike versorging” en word vir alle swanger vroue aanbeveel. Swanger vroue tel onder die groep met ’n verhoogde risiko vir griepkomplikasies, soos longontsteking, infeksies en ontwatering. Al kan babas eers op die ouderdom van ses maande oud ingeënt word, kan die teenliggaampies wat hulle in die baarmoeder van hul ma’s kry hulle help beskerm.

7) Ek sal vinniger herstel as ek hoendersop eet.

Warm vloeistowwe kan ’n seer keel streel en verskaf noodsaaklike vloeistowwe om jou herstel ’n hupstoot te gee. Tog bevat hoendersop geen spesifieke eienskappe wat griep help beveg nie. Wees met ’n voorraad keelseerpille, snesies, neussproei en ander noodsaaklike selfmedikasie-produkte gereed om griepsimptome te beveg sodra hulle kop uitsteek. Jou apteker kan jou goeie raad gee oor die beste produkte om byderhand te hou.

8) Ek het antibiotika nodig as ek griep kry.

Antibiotika werk goed teen bakterieë, maar nie vir ’n virale infeksie soos griep nie. Sommige mense kry wel ’n bakteriese infeksie as ’n komplikasie van griep. As jou simptome dus vererger, kan jou apteker of dokter jou raad gee oor die beste behandeling.

9) Ek kan nie iemand aansteek as ek gesond voel nie.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het 20 tot 30 persent mense met die griepvirus geen simptome nie.

10) Verkoue en griep is dieselfde ding.

Verkoue en griep is twee verskillende soorte virusse. Die verkouevirus se simptome is gewoonlik ’n loopneus, kongestie en ’n seer keel. Die simptome vererger geleidelik oor ’n paar dae. ’n Verkoue kan ook moegheid veroorsaak, maar nie naastenby so erg soos die uitputting wat met griep gepaardgaan nie. Griep word deur die influensa-virus veroorsaak en het ’n beduidender uitwerking, want dit tas die longe en gewrigte aan en kan tot longontsteking, asemhalingsversaking en in uiterste gevalle selfs tot die dood lei. Die simptome steek vinnig kop uit en is gewoonlik erger as dié van ’n gewone verkoue. Verkoue en griep is albei twee tot drie dae voor jy enige simptome toon en vir ’n week of twee daarna nog aansteeklik.