Tyd om te ontspan en ontslae te raak van stres is nie net nodig vir jou geestesgesondheid nie, maar ook jou liggaamlike welstand.

Tetra Pak

Hier is ’n paar maniere waarop jy stres kan hokslaan . . .

1. ’n Ontspanningsroetine

Maak jouself reg om te ontspan sodra jy tuiskom. Skop jou skoene uit, vergeet van werk en trek iets gemakliks aan.

2. Kom uit

Vitamien D is die beste antidepressant. Gee oor aan jou sintuie met ’n bietjie vars lug, oefening, die klank van voëls in die bome en die gevoel van gras wat jou bene kielie. ’n Verandering in jou omgewing ná ’n gespanne werkdag sal jou bui sommer onmiddellik verbeter en spanning verlaag.

3. Gaan met klein vakansies

Om ’n volle week verlof te neem is dalk die perfekte manier om te ontspan, maar soms kan dit meer spanning veroorsaak omdat jy nie regtig tyd het daarvoor nie. Ruim blitsvakansies in deur ’n Vrydag of ’n Maandag af te vat. So kan jy gereeld herlaai sonder ’n vloed e-posse in jou posbus. Dis egter belangrik dat jy dié blitsvakansies kombineer met ’n verandering in jou omgewing, of iets nuuts, soos om na ’n nuwe restaurant te gaan, jou stad te herontdek of selfs na ’n nabye gastehuis te gaan of te gaan kampeer.

4. Reik uit

Die bekende sêding “niemand is ’n eiland nie”, is waar. Wend jou tot jou ondersteuningsnetwerk – dis waarvoor vriende en familie daar is. Niks werk so goed soos om die bekende stem van ’n ou vriend of vriendin te hoor, of om jou ma se gunsteling sop te slurp terwyl jy inhaal met wat in elkeen se lewe aangaan of ’n bietjie raad vra nie. Dit sal beslis jou spanning verlaag.

5. Sit dit af!

Jy is dalk al gewoond aan die gedurige gezoem van ’n telefoon, rekenaar en selfoon, maar dit skep spanning sonder dat jy dit eers besef. As dit nie ’n e-pos of ’n oproep is wat jy misgeloop het nie, dan wag daar ’n SMS of nog ’n WhatsApp- of Facebook-boodskap. Hou op voel jy moet almal altyd dadelik antwoord – ’n flink reaksie is nie regtig altyd nodig nie. Jy kan nie almal gelukkig hou nie en veral nie ten koste van jou eie kalmte nie. Blokkeer kennisgewings van die apps op jou selfoon (soos Facebook, Twitter en WhatsApp) saans ná ’n sekere tyd. Daar is byvoorbeeld geen rede waarom jy ná nege saans nog beskikbaar moet wees nie. Maak ’n gewoonte daarvan om by die werk elke uur jou e-posse te lees pleks van sodra die boodskappe inkom. Dit sal jou produktiewer maak en dit beheer daardie gevoel dat daar te min tyd is om te veel dinge te doen.

6. Vind balans

Moenie jou naweek oorvol maak nie – selfs al is dit alles goed wat jy wil doen. Dit sal jou totaal uitgeput laat voel teen Sondagaand, met geen energie oor om die week aan te pak nie. Kry balans. As dit beteken dat jy Saterdag rustig verkeer en Sondag ’n vol dag het, is dit ook reg, maar maak seker jy kry werklik vry tyd, selfs van goed wat jy geniet. Ontspan met klein plesiertjies soos ’n koppie tee, ’n gesinspiekniek, ’n goeie boek of breiwerk. Vat dit, want jy verdien dit!

7. Kry ’n stokperdjie

Ontspan jou brein met iets wat jou gelukkig maak. As jy voel of jy nie ’n stokperdjie het nie, is dit selfs beter. Jy het tyd om nuwe goed te beproef, soos joga, stap, brei, tuinmaak, bak of skilder. Of jy nou iets kry waarvan jy hou of nie, jy gaan mettertyd leer ontspan en boonop iets mooi kan skep soos ’n tuin of serp vir jou peetkind of ’n lekker happies vir die naweek.

8. Stuit spanning in sy spoor

Leer om die tekens van spanning uit te ken voor dit jou heeltemal oorneem. As jy oorweldig voel, gaan stap om die blok – dit werk wonders om jou kop skoon te kry. As jy voel dit sal te veel tyd verg, kan jy ’n eenvoudige meditasie-oefening by jou tafel doen of ’n asemhalingsoefening. Hoe dit ook al sy, moenie dat dit met jou weghol nie.

9. Ontsnap en herstel

Lei jou gedagtes weg van jou werk deur dit aan iets heeltemal nuuts bloot te stel wat jou wegvoer, soos ’n konsert, fliek, boekbekendstelling, kunsuitstalling, sportbyeenkoms of komedievertoning. Jy sal daar uitstap en voel asof jy vir ’n naweek weg was.

10. Wees dankbaar

Kry ’n dankbaarheidsdagboek en skryf al jou seëninge neer. Dit klink vreeslik soetsappig, maar die oorsaak van stres lê dikwels by jou beskouing. Wanneer die lewe baie rof voel, is ons geneig om te konsentreer op dit wat dit onmoontlik maak op daardie oomblik. ’n Dagboek waarin jy elke aand kan neerskryf waarvoor jy dankbaar is, sal jou help om ’n gesonder perspektief te kry. Jy sal sien dit is nie alles vaal nie; daar is altyd ’n reënboog wat iewers by die wolke uitsteek, soms verg dit net dat jy dit neerskryf sodat jy dit kan raaksien.

-Faiza Mallick

Source: womenshealthmag.com, webmd.com

Fotos: Flickr – Tetra Pak. Krasimir Makaveev