Wanneer die bloeisels begin blom en die koue sy byt verloor, kan jy die seisoen van vernuwing so verwelkom:

1. Doen dit. Lente is die tyd om jou lewe te organiseer. ’n Goeie manier om jou lewe weer op koers te kry is om al daardie halfgelese boeke en die halfvoltooide take weer uit te haal. Niks klop daardie lekker gevoel dat jy iets afgehandel het nie, al is dit ook iets so eenvoudig soos die beenverwarmers wat jy die begin van die winter begin brei en toe neergesit het, of die boek wat jy begin lees het en toe vir die laaste paar maande op ’n stowwerige rak vergeet het.

2. Ontdek. Gee jou lewe vonk deur die oulike plekkies in jou dorp of stad waarvan jy vergeet het, te herontdek of om die hoekies en draaitjies waarby jy nog nooit uitgekom het nie, te verken. Dis ’n goedkoop alternatief vir reis en gee jou die eenvoudige plesiere wat die lewe lekker maak.

3. Ontgiftig. Die meeste van ons eet meer in die winter en baie van ons moet weer ons somerlyf terugkry. Die lentemaand is wanneer jy jou planne vir ’n gesonde en voedsame dieet agtermekaar moet kry. Drink meer water, neem die voorgeskrewe hoeveelheid daaglikse vitamiene, en bly weg van rommelkos. Om springlewendig en gesond te voel onthou wat goed is vir jou en hou dit gesond en eenvoudig. Maak ’n afspraak by jou dokter en gesels oor wat jy kan doen om jou lewensgehalte te verbeter.

4. Staan fier. Selfversekering is noodsaaklik vir ons algehele welstand. En dit begin daarby dat jy goed voel oor jou liggaam. Nadat jy maande onder komberse en klere weggekruip het, is dit tyd om jou vere vir die naderende winter reg te ruk. ’n Paar joga-posisies sal jou beter oor jouself laat voel en jou frons in ’n glimlag omtower.

5. Slaap. Moenie die belangrikheid van goeie nagrus of ’n broodnodige middagslapie onderskat nie. Dit verbeter jou energie en jou bui en laat jou goed lyk. En wanneer jy goed lyk voel jy ook goed, of hoe?

6. Maak skoon. Gee jou onnodige snuisterye vir liefdadigheid en jy help nie net jouself nie maar andere ook. Laat vaar al daardie fisieke en emosionele bagasie wat swaar op jou skouers rus en onnodige skuldgevoelens veroorsaak. Jy kan dan sonder skuldgevoelens vir ’n vars, nuwe gevoel herversier. ’n Verandering laat ’n mens altyd goed voel.

7. Vind nuwe geleenthede. Neem bestek van waar jy in jou lewe is. As jy ná oordenking voel dat jy ’n nuwe werk/aktiwiteit/projek moet hê, is nou ’n goeie tyd om dit in werking te begin stel. Moenie vir die nuwe jaar wag om jou doelwitte te stel nie, spits jou nou daarop toe. Stel ’n rits klein doelwitte en maak seker dat jy hulle behaal het wanneer die nuwe jaar aanbreek. Haal jou CV uit vir geleenthede wat dan begin, doen aansoek vir daardie kursus voordat dit sluit en stel daardie sakeplan op vir die bakkery wat jy nog altyd wou begin. Daar is nie ’n beter tyd as nou nie.

8. Skenk. Skenk jou ou klere aan ’n liefdadigheid van jou keuse, of skenk dalk liewer jou vrye tyd om ander te help. Om net ’n boek vir ’n siek kind in die hospitaal te lees gee jy ’n liefdesgeskenk van onskatbare waarde wat iemand anders se lewe beter maak. Onthou: “Dit wat jy vir jouself doen, is verby wanneer jy weg is, maar dit wat jy vir andere doen, bly agter as jou nalatenskap” - Kalu Kalu.

9. Oefen. Selfs al hou jy nie van beweeg nie, sal jou liggaam dankbaar wees vir die voordele wat dit inhou. Begin dus stadig, ’n paar treë op ’n slag, klim trap pleks van die hysbak te gebruik, parkeer jou motor ’n bietjie verder weg wanneer jy winkels toe gaan. Van daar af kan jy stappie vir stappie verder gaan en jou oefenroetine uitbrei.

10. Leer iets nuut: Dis ’n nuwe seisoen. Dis die begin van ’n nuwe kwart van die jaar. Dis ’n goeie tyd om iets nuuts te begin, iets wat jou ’n bietjie “eie tyd” gee, miskien iets wat jy al lankal wou doen, soos kuns/koekbak/fotografie . . .

Daar het jy dit! Weg is jy, want die somer is net om die draai.

Faiza Mallick