Jy is heel waarskynlik veel slimmer as wat jy dink, het navorsers van die Universiteit Cornell in Kolorado, Amerika bevind, gewoon omdat jy heeltemal bewus is van jou tekortkominge en beperkinge.

Twyfel jy steeds?

Sekere kenmerke kan tekens wees wat aandui dat jy dalk wel een van die skerper potlode in die sakkie is, berig Business Insider.

Jy is die oudste kind

Die New York Times het in 2007 berig dat epidemioloë in Noorweë bevind het die oudste sibbe se IK is ’n bietjie hoër as dié van hul jonger broers en susters. Dit het niks met gene te doen nie, maar eerder met die interaksie tussen die ouers en kinders.

Jy het ’n kat

Jammer, hondeliefhebbers, maar katmense is glo ’n klein bietjie slimmer. Denise Guastello, ’n navorser van die Universiteit Carroll in Milwaukee, Wisconsin, het in ’n opname onder studente bevind dat die mense wat hulself as “katmense” beskryf, beter gevaar het in toetse wat hul intelligensie meet.

Jy is linkshandig

Hotkloue is beter daarmee om twee voorwerpe te vat en hulle op ’n slim manier te gebruik om ’n nuwe voorwerp te skep, het die New Yorker berig.

Jy is lank

’n Studie in 2008 aan die Princeton-universiteit het bevind driejarige kinders wat langer as hul maatjies is, vaar beter in kognitiewe toetse. Op driejarige ouderdom kon skoolopleiding nog nie juis ’n rol begin speel het nie.

Hoe vroeër jy leer lees het, hoe slimmer is jy

In 2012 het navorsers in Engeland identiese tweelinge geëvalueer. Hulle het bevind die kind wat op ’n jonger ouderdom begin lees het, het beter gevaar in kognitiewe toetse.

Jy laat ander lag

In ’n studie waaraan 400 sielkundestudente deelgeneem het, moes die studente onderskrifte vir spotprente uitdink. En ja, die slimmer studente se onderskrifte was snaakser.

Musieklesse kan jou slimmer maak

Navorsing wat in 2011 gepubliseer is, het bevind die verbale intelligensievlakke van kinders tussen die ouderdom van vier en ses het gestyg ná ’n maand se musieklesse. Ander navorsing het reeds in 2004 bevind ’n sesjarige kind se IK het toegeneem ná nege maande van klawerbord- of sanglesse.

Naguile weet glo meer

Mense wat tot laatnag wakker is, is glo slimmer as die van ons wat vroeg uit die vere is, het nog ’n studie bevind.

Hiperintelligente mense geniet hul eie geselskap

’n Studie aan ’n bestuursuniversiteit in Singapoer en die Londense Skool vir Ekonomie het bevind dat slim mense anders sosialiseer as die res van die mensdom. Hulle het ’n bietjie meer tyd op hul eie nodig.

Jy is nie pynlik netjies nie

Navorsing aan die Universiteit van Minnesota het bevind dit kan kreatiewe denke stimuleer om in ’n vertrek te werk wat nie so eksie-perfeksie netjies is nie.