Maar wat doen jy met die foon van twee of drie jaar oud waarvoor jy duur betaal het? Jy wil soveel moontlik pitte daarvoor kry, maar dit kan moeilik wees om ’n tweedehandse foon te verkoop as jy nie weet hoe om te werk te gaan nie.

Hier is ’n paar nuttige wenke wat jou ekstra geld in die sak sal bring en jou vir jou iPhone 8, Huawei P10 of Samsung S8 sal voorberei.

Kyk na die mark

Jy kan jou ou foon op verskeie maniere verkoop, maar die beste is nie die tweedehandsfoonwinkel langs die pad nie. Die eienaars probeer hul brood verdien en sal jou waarskynlik veel minder aanbied as wat jou foon werd is. 

Kyk eerder op aanlyn handelswebtuistes soos OLX of plaaslike Facebook-groepe vir tweedehandse ware. Maak seker die geografiese gebied waarin jy jou foon adverteer is na aan jou sodat jy versendingskoste kan bespaar. Dit sal ook swendelaars help vermy, want jy kan jou koper waarskynlik net op ’n openbare plek ontmoet om die transaksie te beklink.

Facebook gee jou die keuse om jou advertensie op verskeie groepe op ’n slag te plaas, wat beteken jy hoef nie ure daaraan te bestee om in talle groepe ’n plasing te maak nie.

Bepaal die prys so

Dit kan ook moeilik wees om ’n prys vir jou foon vas te stel. Jy moet kyk hoeveel ander mense of tweedehandswinkels vir jou foonmodel vra. ’n Voorbeeld: ’n Tweedehandse iPhone 5s verkoop nou vir sowat R3 500. As jy dus joune vir R4 500 aanbied, sal jy waarskynlik nie ’n koper lok nie.

Wees strategies oor jou prys. As jy ’n iPhone het, probeer dit verkoop voor die nuwe iPhone 8 bekendgestel word, want wanneer die nuwe foon eers uit is, daal die waarde van ouermodelle dadelik. Vertrou ons, dis beter om ’n paar weke met ’n ou spaarfoon klaar te kom as om jou foon te verkoop teen ’n prys wat belaglik minder is as wat jy daaraan bestee het. 

Skoonmaak en aanbieding

Voorkoms tel!

Onthou, die mens wat jou foon koop, grond hul aankoop op ’n foto. Hulle kan nie daaraan raak voor hulle dit koop nie. Dus moet jy dit so aantreklik en “splinternuut” moontlik laat lyk. Wees eerlik oor enige defekte, maar beklemtoon ook die goeie punte van jou foon, soos dit is een van die enigste fone met ’n skerm wat nog heel is.

Sorg ook dat jou foto so aantreklik moontlik is om ’n potensiële koper te lok.

Berei jou foon voor

Wanneer jy ’n koper gevind het, onthou om al jou inligting af te vee deur dit tot die fabrieksverstelling te herstel. Maak ook seker jy het Find my iPhone of Android afgeskakel sodat jou koper nie probleme ondervind nie.

Om jou foon te laat gaan, kan so moeilik wees soos om ’n ou vriend te groet, maar dink so daaraan: Binnekort sal jy ’n splinternuwe baba in jou hand hê. En wat kan dan nou beter wees as dit?

Bronne: The Verge,iMore, Sellyouriphone