Maar wat van slim sakemense wat hul stres by die werk hanteer?

Volgens ’n nuwe ondersoek het hulle net so ’n groot kans om hul probleme weg te eet.

’n Britse ondersoek deur Gaviscon het getoon diegene wat ’n slegte dag by die werk beleef het, het ’n groter kans om etenstyd na gemorskos te gryp, terwyl diegene met ’n positiewe uitkyk dikwels lae-kilojoule-opsies soos slaaie kies.

Trouens, meer as driekwart van die 2 000 Britse werkers het gesê hul luim beïnvloed “beslis” wat hulle middagete eet. Bykans die helfte het gesê ’n gelukkige luim beteken ’n gesonde middagete en net meer as die helfte het erken ’n aaklige dag beteken ’n groter kans dat hulle die wortels vir kerrie sal verruil.

Die hantering van stres by die werk blyk die gewildste verskoning vir troos-etery te wees; meer as sewe uit 10 erken het hulle doen dit.

“Ons beleef almal stresvolle, bedrywige dae, maar die algehele oorslaan van maaltye om tyd te bespaar is ’n vals ekonomie, so ook om jou kos by jou lessenaar te verslind of ’n maaltyd vir ’n sjokoladestafie of liters sterk koffie te verruil,” maan die dieetkundige Azmina Govindji aan MailOnline.

Volgens die opname word vier maaltye per week volgens luim gekies. Daar is ook bevind die deursnee-werker eet 38 keer per jaar gemorskos by hul lessenaar, en net minder as die helfte voeg by hoe erger hulle voel, hoe vetteriger sal hul middagete wees.

Ontstelde werkers eet nie net sleg nie, maar ook vinnig. Die gemiddelde tyd waarin middagete geëet word, is ’n spoedige ses minute, wat ernstige verteringsprobleme kan veroorsaak. Amper die helfte sê hulle jaag op ’n besige of stresvolle dag hul ete af.

“Dit is belangrik om tyd opsy te sit om jou kos te geniet pleks dat jy ’n toebroodjie in vyf minute verorber sodat jy verder kan werk,” sê Azmina. “Hierdie  gewoontes kan jou vatbaar maak vir probleme soos sooibrand of slegte spysvertering, wat jou in die middag ongemaklik kan laat voel.

“Sowel sooibrand as slegte spysvertering is algemeen wanneer ons ons aan ryk, vetterige kos vergryp, ongereeld eet of meer gestres is.”

Daar is darem nie net slegte nuus nie. Amper die helfte het gesê hul gemiddelde middagete op ’n weekdag is “redelik vars”. Maar net minder as ’n derde het net hul gemiddelde middagete as “vetterig en olierig” beskryf.

As die gesondheidsgevolge nie genoeg is om jou te laat besin nie, behoort die volgende dit te doen: die deursnee Britse werker bestee amper R3 800 per jaar aan gemorskos. En dit kan jou familie ook raak, want meer as ’n derde moedig hul geliefdes aan om aan ongesonde kos weg te lê nadat hulle ’n moeilike dag gehad het.

Aan die ander kant het net meer as ’n tiende van die mense op ’n tipiese slegte dag middagete oorgeslaan.

Jy kan dit voorkom deur liewer vooraf maaltye te berei as om winkeletes te koop. Dit beteken jy sal waarskynliker gryp na wat reeds in die yskas is. En probeer weg van jou lessenaar eet terwyl jy ’n boek lees of iets anders doen wat nie werkverwant is nie.

© Cover Media