Staan jy dié naweek by ’n braaivleisvuur, is daar ’n onderwerp wat beslis sal opduik: die brandstofprys.

'Van begin vanjaar af het die brandstofprys met meer as R1 per liter gestyg.'

Dinsdag om middernag het motoriste in die binneland vir die eerste keer meer as R14 per liter betaal toe die petrolprys met 36c per liter en diesel met 28c per liter gestyg het.

Vir baie Suid-Afrikaners is dit onmoontlik of net heeltemal onprakties om openbare vervoer te gebruik. Hoe kan jy dan jou brandstofuitgawes ’n bietjie verminder?

Martin Janse van Rensburg van Budget Insurance sê saamryklubs is verreweg die beste raad teen stygende vervoerkoste. Terselfdertyd verkort dit die tyd dat jy agter die stuur deurbring en beperk dit slytasie aan jou voertuig.

Selfs al bestaan jou saamryklub uit net jy en iemand anders, kan jy jou brandstofuitgawes halveer.

As jy saam met drie ander mense ry, kan dit jou vervoerkoste verlaag tot ’n kwart van wat dit jou sou kos om alleen te ry, sê Martin.

Volgens hom bied dit die onmiddellikste en doeltreffendste resultate van alle brandstofbesparingsmetodes.

Hier is nog 12 maniere waarop jy brandstof kan bespaar:

  1. Beplan jou uitstappies en take so dat jy alles wat in dieselfde omgewing gebeur, op een slag kan uitvoer, pleks dat jy dieselfde roete meer as een dag per week moet aflê.
  2. Moenie jaag nie. Hoe vinniger jy ry, hoe meer brandstof gebruik jy.
  3. Moenie op voertuie voor jou afjaag nie. Dit mors brandstof. Ry liewer stadig maar egalig.
  4. Versnel egalig. Dit vreet brandstof wanneer jy die versneller plattrap.
  5. Moenie te veel met jou voet op die koppelaar en remme ry nie. Dit verhoog brandstofverbruik én slytasie.
  6. Hou ’n handratmotor in die hoogste moontlike rat sonder dat jy stremming op die enjin plaas.
  7. Hou vensters toe op die oop pad. Oop vensters skep weerstand wat brandstofverbruik met tot ’n vyfde kan verhoog.
  8. Moenie onnodige bagasie rondry nie. Hoe swaarder die vrag, hoe meer brandstof gebruik jy.
  9. Laat jou motor gereeld versien. So verhoog jy jou voertuig se doeltreffendheid.
  10. Toets die druk in jou bande. Bande wat nie styf genoeg is nie, verhoog jou brandstofverbruik en kan boonop gevaarlik wees.
  11. Verminder die lugweerstand. As jy nie die bagasierak op jou motor daagliks gebruik nie, haal dit liewer af om brandstofverbruik in te kort.
  12. Hou in ’n lae rat teen opdraandes. Moenie jou motorenjin ooreis deur in ’n hoë rat te bly nie. ’n Laer rat hou die enjinspoed hoër en verbruik minder brandstof.

Ekstra bronne: AA.co.za