Om ’n motor by ’n veiling te koop kan ’n maklike manier wees om geld te spaar, maar maak seker jy koop nie ’n kat in die sak nie. “Jy moet jou huiswerk baie goed doen om voordeel te trek uit die groot besparings op veiling-motors,” waarsku Elmarie Twilley, woordvoerder by Virseker.

Sy sê motors wat op veilings verkoop word, kom meestal van gelikwideerde eiendom, plaaslike handelaars wat nie ’n motor verkoop kon kry nie of maatskappye wat van ’n vlootmotor ontslae wil raak.

“Die veilingsproses werk soos volg: ’n Lys of katalogus van die motors op die veiling word aan die publiek beskikbaar gestel sodat hulle kan sien watter motors op ’n betrokke dag opgeveil sal word. Motors kan ook besigtig word. Wanneer die veiling begin, word elke voertuig by die veilingsaal ingebring. Die afslaer gee ’n kort beskrywing van die voertuig en begin met ’n openingsbod. Die hoogste bod wen. Die voertuig moet gewoonlik binne 24 uur betaal word, afhangend van die veiling se reëls.”

Hier is volgens Elmarie ’n paar dinge wat jy in gedagte moet hou wanneer jy jou kar op dié manier aanskaf:

  • Besoek minstens een veiling voor jy koop sodat jy weet wat jy te wagte kan wees.
  • Doen voor die veiling navorsing oor die prys en verrigting van die motor waarin jy belangstel.
  • Beplan jou begroting deeglik en maak seker dat jy kopersfooie insluit. Dit neem dienooreenkomstig toe met die bedrag wat jy bestee.
  • Neem in ag dat veilings gereeld gedurende werkure plaasvind en dat jy dalk ’n verlofdag sal moet neem. Jy moet ook seker maak dat jy vervoer het na die veiling en terug, afhangend van of jy met jou nuwe motor huis toe ry of nie.
  • Gaan die motor deeglik na vir vlekke aan die bakwerk of ongelukskade.
  • Onthou jy kan nie by ’n veiling ’n voertuig vir ’n toetsrit neem nie.
  • Neem in ag dat voertuie by ’n veiling nie nagegaan of gesertifiseer is nie.
  • Die voertuie dra geen waarborg nie.
  • Dié voertuie kan sonder enige diensrekords of handleidings opgeveil word.
  • Die voertuie by ’n veiling kan in ’n slegte toestand wees. Veral vlootvoertuie doen gewoonlik in hul dienstermyn baie slytasie op.
  • Indien dit ’n teruggeneemde voertuig is, is die kans groot dat die vorige eienaar nie genoeg geld gehad het om die voertuig goed in stand te hou nie. Maak seker jy gaan die voertuig goed na en kyk vir enige lekplekke en ander tekens van slytasie.
  • Maak seker dat jy iemand met ’n goeie meganiese kennis saamneem indien jy nie self goed vertroud is daarmee nie.
  • Die bieproses is vinnig en soms verwarrend. Vermy dat die oomblik jou oorweldig en jy sodoende te veel betaal.
  • Wees bereid om van die veiling te onttrek as ’n motor se prys jou limiet oorskry.

Elmarie sluit af: “By ’n veiling koop jy wel ’n motor, maar dit verskil hemelsbreed van die normale handelaarsituasie waar ’n motor aan jou verkoop word. Wat ook al jy doen, onthou dat ’n voertuig ’n duur en belangrike belegging is, so maak seker dit is ’n goeie een.”