“Bankkaarte het baie veiligheidsmeganismes wat daarop gemik is om bedrog tot ’n minimum te beperk. Kaartveiligheid kom egter van twee kante af – verbruikers moet ook versigtig wees om te voorkom dat hulle slagoffers word van bedrog,” sê Chris Labuschagne, hoof van FNB Credit Card.

Volgens die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) se jongste syfers het krediet- en debietkaartbedrog die land in 2016 meer as R700 miljoen gekos. Eersgenoemde het byvoorbeeld met 13 persent toegeneem vergeleke met die voorafgaande jaar.
Kaartgebruikers kan gerus dié maatreëls onthou, stel Chris en Sabric voor:

  • Volg die veiligheidstappe wat jou bank aanbeveel: Heelwat waninligting doen die ronde oor hoe ’n mens kaartbedrog kan verhinder. Die beste bly om altyd jou bank se raad te volg. “Moenie luister na enigiemand wat roekelose stappe voorstel wat jou kaart kan beskadig en die werking daarvan benadeel nie. Bankkaarte is spesifiek ontwerp vir bepaalde doeleindes en bevat baie veiligheidsdata. Jy kan onherstelbare skade aanrig deur daarmee te peuter,” maan Chris.
  • Moet nooit jou PIN neerskryf of dit saam met jou kaart hou nie: Dié goue reël word dikwels steeds geïgnoreer. Memoriseer jou PIN pleks van dit neerskryf of op jou foon bewaar. Sommige bank-apps bied deesdae ook ’n funksie waardeur jy, indien nodig, maklik en veilig jou PIN kan sien.
  • Meld dadelik ’n verlore of gesteelde kaart aan: Sowat 56 persent van debietkaartbedrog-verliese word volgens die Sabric met verlore en gesteelde kaarte verbind. Deur onmiddellike aanmelding kan jy help keer dat skelms jou kaart gebruik. Bank-apps wat jou toelaat om ’n kaart vinnig te kanselleer, kom goed te pas, sê Chris – dis nou buiten om noodnommers te skakel of jou naaste tak te besoek.
  • Kyk uit vir kontaklose betalingsopsies: Dié nuwe tegnologie bied verbruikers heelwat beter beheer oor hul bankkaarte. Waar ondernemings wel sulke tegnologie inspan, hoef jy nie jou kaart aan verkoopslui of kelners te oorhandig nie – jy tik net met jou kaart op die leesvlak van ’n betaaltoestel. Baie kaarte wat vandag uitgereik word, kan so gebruik word (dit het gewoonlik ’n Wi-Fi-simbool daarop). Kyk dus rond vir kontaklose betalingstekens waar jy ook al inkopies doen. Hierdeur skakel ’n mens grootliks die risiko uit van bedrieërs wat jou kaart ongemerk deur ’n afleestoestel (skimming device) trek om die inligting daarop vas te lê en kaarte te kloon waarmee hulle dan jou rekening leeg koop.
  • Wees wakker wanneer jy aanlyn koop: Maak seker jy het met betroubare verskaffers te doen voor jy jou kaartbesonderhede met hulle deel. Tik altyd eerder die volledige webadres van die verskaffer wat jy beoog om te gebruik in die URL-veld bo in, pleks van byvoorbeeld op ’n skakel te klik wat jy raak gegoogle het. Waar jy wel iets gaan koop, moet jy natuurlik ook altyd seker maak dis ’n beveiligde (secure) webblad, met ’n URL wat met "https" (pleks van net "http") begin en met ’n slotjiesimbool daarby.

  • Sabric beklemtoon ook dié basiese stappe: Teken jou kaart agterop sodra jy dit ontvang om te help verhinder dat iemand anders daarvan besit neem; moenie e-posse met jou kaartnommers en vervaldatums daarin stuur nie; maak seker dis jou eie kaart wat jy ná elke koop- of OTM-transaksie terugkry; vernietig kredietkaartstrokies – moet dit nie net in die asblik gooi nie; jou kaart moet nooit onder jou oë uit wanneer jy vir iets betaal nie; probeer om liewer nie deurgaans dieselfde PIN te kies as jy byvoorbeeld ’n krediet-, debiet- en tjekkaart het nie – sodat boewe nie outomaties toegang het tot al jou rekenings as hulle dalk jou kaarte en (enkele) PIN in die hande kry nie.
“Kaartbetalings se voordele vir verbruikers weeg veel swaarder as om met kontant te werk,” sê Chris. En die bankbedryf sien inderdaad ’n “volhoubare toename” in verbruikers wat met bankkaarte vir omtrent alles betaal. “Dit bly egter noodsaaklik dat gebruikers veiligheid en waaksaamheid voorop stel.”