’n Vriend vertel nou die dag hy was effens uit die veld geslaan toe die huurders van sy huis vra of hulle minder huur kan betaal. Hy was van plan om ouderdom die huur vir die komende jaar te verhoog, en hier vra hulle afslag . . . Omdat hulle egter mooi na sy eiendom kyk, was hy bereid om te onderhandel.

Hulle het toe onderneem om in ruil vir die verlaging in huur herstelwerk in en om die huis te doen waarvoor my vriend tevore ’n nutsman moes betaal. Die paartjie het ook gesê hulle sal die voortuin, wat elke winter oorstroom word, herbeplan en -beplant.

Die uiteinde is ’n gelukkige verhuurder en twee gelukkige huurders.

So kan jy ook met jou dokter onderhandel: Vra afslag of vra of jy jou rekening oor ’n paar maande kan afbetaal.

En wanneer jy verswelg word deur jou skuld, kan jy ook met jou skuldeisers onderhandel. Gaan spreek elkeen persoonlik en kom ooreen om elke maand ’n vaste bedrag af te betaal. So weet hulle dat jy nie jou skuld net ignoreer nie en bereid is om iets daaraan te doen. Maak ook ’n afspraak met jou bank sodat hulle jou kan raad gee oor so ’n proses. Dis onnodig om jou kop in die grond te druk soos ’n volstruis en jou dood te bekommer oor skuld.

-  Elna van der Merwe  - Leefstylherskrywer  Huisgenoot, YOU & Drumelna