Om ’n plek te huur of te koop is nie altyd swart en wit nie, en swendelaars weet dit.

Dié gewetenlose boewe prooi nou om desperate mense wat huis soek deur hulle voor te doen as huisagente. Hulle vat jou deposito en kies die hasepad!

Huisgenoot se Jacques Myburgh het so hittete ’n slagoffer van so ’n slenter geword. Hy vertel:

Om ’n plekkie in Kaapstad te kry om te huur is klaar soos Chinese marteling. Die een plek is meer afgeleef as die ander. Jy moet soos ’n swerm spreeus saam met ander potensiële huurders kloek om ’n huis te besigtig wanneer dit vertoon word, en die huisagent vra van jou om so te sê ’n plaas se geld as deposito te betaal.

Lees ook: MTN, Vodacom waarsku teen nuwe slenter

Tot my verligting sien ek ’n advertensie op Gumtree vir ’n woonstel in ’n kompleks wat ek ’n week gelede besoek het. Alles het belowend gelyk. ’n Pragtige uitsig van die Kaapse hawe pryk op die foto en die man se nommer is gelys.

Ek bel toe die man wat hom as John voorstel. Hy het vir my gesê ek kan enige tyd na die woonstel kom kyk. Ek het dit vreemd gevind, want die agentskap wat die kompleks verhuur, het vasgestelde ure om na die plekke te gaan kyk. “Dalk is dit ’n privaat verhuurder,” sus ek toe die stemmetjie in my kop.

Daar gekom, bel ek John om te sê ek is by die woonstelkompleks. “Vra net vir 206,” sê hy kortaf.

Die sekuriteit bel 206 en die mense is stomgeslaan; hulle sê hulle het ’n week gelede al ingetrek. Oukei, mnr. “Huisagent”, wat nou? Ek bel John terug en vra of hy seker is dis 206; hy verseker my dit is. “Bog, tjom!” sê ek, terwyl ek voel hoe die are in my nek bult. “Oukei, oukei, 406,” sê hy.

Nou is ek eers die josie in. “Is jy ’n huisagent? Watter agentskap?” brul ek. John druk die foon in my oor dood en skakel sy foon af.

Lees ook: Vakansieslenter ry gewilde sanger se planne in die wiele

Volgens Prime Letting wat die woonstelkompleks verhuur, is daar gereeld sulke gevalle waar swendelaars slenter-advertensies aanlyn plaas.

“Hulle plaas die advertensie op dieselfde tyd as wat die agentskap die eenheid adverteer. As die mense in hul privaat tyd na die plek gaan kyk, stel hulle ’n vals huurkontrak op en vra vir die deposito,” sê ’n huisagent.

“Jy betaal die deposito in en pak jou goed om in te trek, net om uit te vind jy is nie die enigste huurder nie, en die skelm is weg met jou deposito.”

Volgens Cathy Nolan van Private Property is daar ’n paar riglyne wat jy kan volg:

? Moenie iemand die deposito betaal tot jy hulle in persoon ontmoet het nie.

? Moenie vir iets betaal wat jy nog nie self gesien het nie. Daar kan dalk foto’s aanlyn wees, maar dit beteken nie die plek is in die mark nie.

? Moet niks betaal voor jy nie die huurkontrak onderteken het nie; selfs dit moet met paraatheid gedoen word.