Niks vertraag loopbaangroei vinniger as ’n gebrek aan motivering nie.

Ons bring baie tyd op kantoor deur en daarom is geesdrif belangrik. As jy jou werkdag haat, kan jy gespanne en ongelukkig raak. Dit kan ook tot emosionele en liggaamlike ongesteldheid en geestelike uitputting lei.

Hier is wenke om jou loopbaan weer woema te gee:

1.    Tree op as vrywilliger by werkskoue

Ondernemings soek dikwels verteenwoordigers om hulle by loopbaanskoue te gaan bemark. Bied jou dienste aan. Dit lyk goed op jou CV (om die onderneming te bevorder waarvoor jy werk) en bied opwinding (om uit die kantoor te kom en iets nuuts te doen). As jy knap is met bemarking, kan jy ’n vars uitkyk kry op die onderneming en die spesiale goed wat dit bied.

2.    RSVP vir die onderneming se geleenthede 

As jy in die sleur van jou werk verstrengel raak, kan die stres en administrasie wat met jou titel gepaard gaan jou laat vergeet dat jy saam met interessante mense werk. Bywoning van die onderneming se geleenthede sal jou die onderneming deur sy mense help sien. Dit kan ook help om jou trots in jou werkplek ’n hupstoot te gee.

3.    Skryf in vir ’n kursus

Soms is verstandelike stimulasie al wat jy nodig het om jou passie vir jou loopbaan weer aan te wakker. Skryf vir ’n kursus in. Dit sal nie net jou geskiktheid vir indiensneming verbeter nie, dit kan ook die passie vernuwe wat jy eens vir jou loopbaan gehad het.  

4.    Verbreed jou horisonne

As dit spesifiek jou werkplek is wat jou daagliks gespanne maak, moet jy dit dalk oorweeg om iewers anders te gaan werk. Soek ander ondernemings in jou veld en gryp geleenthede aan wat oor jou pad kom. So ’n waagstuk kan weer jou passie vir die lewe aanwakker. Onthou, jy kan iets verander as jy nie daarvan hou nie. Daar is ’n gesegde wat lui: “As jy nie hou van waar jy is nie, verander dit. Jy is nie ’n boom nie.”

5.    Verander van werk

Dis dikwels die onderneming waarvoor jy werk en nie jou loopbaan nie wat jou dwars in die krop steek. Onthou, baie dinge lei tot gelukkigheid of ongelukkigheid met jou werk. Dit kan jou werk wees, die plek waarvoor jy werk, die mense saam met wie jy werk of die ligging van jou werkplek. Maar as dit wel jou loopbaankeuse is wat jou ongelukkig maak, kan dit goed wees om van loopbaan te verander. As jy vind jou belangstellings het verander, kan jy soortgelyke loopbaanrigtings ondersoek of ’n verwante veld betree van dit waarvoor jy reeds gekwalifiseer is.

Faiza Mallick

Bron: Careers24.com