Baie van ons pluk steeds te maklik daardie krediet- of winkelkaart uit sonder dat ons eers regtig oor ons algehele geldsituasie besin het.

Dis waarom ’n mens nooit die basiese riglyne kan oorbeklemtoon vir wanneer ook al die kooplus begin knaag nie. Eunice Sibiya, hoof van verbruikersopvoeding by FNB, stel voor ons vra onsself dié sleutelvrae voor ons iets koop:

  • Het ek hiervoor beplan?

Onbeplande aankope is gewoonlik ’n groot rede waarom baie mense teen die einde van die maand op krediet begin leef of van hul spaargeld moet gebruik.

Jy het dalk ’n fyn beplande begroting, maar dis baie maklik om dit met net enkele impulsiewe inkopies te bedons, maan Eunice. “Dit laat jou dalk op daardie oomblik goed voel, maar kan jou gou finansieel laat ontspoor.” As dit ’n gewoonte word, kan dit jou skuldverpligtings gou laat handuit ruk, sê sy.

As jy geneig is om op die ingewing van die oomblik te koop, moet jy dalk bloot daardie winkelsentrums begin vermy waar jy gereeld goed koop wat nie deel van jou begroting is nie - tensy jou huishouding regtig iets kort. Jy kan ook jou krediet- en debietkaarte en ander betaalmiddele tuis los wanneer jy hulle nie vir beplande inkopies nodig het nie.

Onverwagte, noodsaaklike besteding, byvoorbeeld mediese uitgawes of motorherstelwerk, kan ongelukkig ook jou begroting knou. “”Dié soort ding kan jy net regtig bestuur met ’n afsonderlike spaarrekening uitsluitlik vir sulke gebeurlikheidsuitgawes,” sê Eunice. En moet dan nooit vir luukshede geld hieruit onttrek nie, al is die versoeking hoe groot.

  • Het ek dit reeds?

Nog ’n algemene onnodige uitgawe is sekerlik die koop van items jy eintlik reeds het . . . êrens in jou woelige huishouding. “Dit geld dikwels vir kleiner items; jy kan byvoorbeeld nie onthou of jy ’n bepaalde spesery tuis het nie. Of jy het iets soos ’n sonbril bloot verlê.

“Maak byvoorbeeld ’n lys van alles wat jy in jou huishouding het en hou dit by jou, op jou selfoon of uitgedruk. Dit klink sieldodend, maar kan jou eindelik baie help.”

Jy kan ook items wat jy tot dusver pal verlê het op ’n bepaalde plek in jou huis begin hou. As jou kinders gereeld goed laat wegraak, byvoorbeeld skooltruie, speelgoed of items vir hul ontspanningsaktiwiteite , kan jy hulle ook begin leer om deels verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar.

  • Kan ek mettertyd iets beters kry as ek nie nou hierdie item koop nie?

Jeans of ’n paar vol cappuccino’s  lyk dalk na onbenullige besteding, maar jy kan verras wees as jy mooi kyk hoeveel jy op die lang duur aan sulke “kleiner items” bestee.

“Met sulke kleiner alledaagse inkopies dink jy waarskynlik selde aan byvoorbeeld ’n deposito vir ’n huis of spaargeld vir studie.” Maar dis presies die soort ding wat ’n mens in ag moet neem, sê Eunice.

Deur die rande wat jy aan sulke nienoodsaaklike inkopies sou bestee eerder weg te sit, “kan jy dalk later veel groter dinge vermag. Oorweeg dit gerus wanneer jy volgende keer in ’n tou staan om iets te koop wat jy nie regtig nodig het nie.”