Voel jy soms of jou versekering jou ’n streep trek omdat jy meer betaal as wat jy uitkry? Martin Janse van Rensburg is ’n woordvoerder vir Budget Insurance, en hy gee raad oor hoe jy die beste waarde vir geld uit jou versekeringspolisse kan kry. Hy sê verbruikers hoef nie agteroor te sit en wag dat premieverhogings hulle tref nie.

“Kombineer jou polisse om huishoudelike en motorversekering in te sluit,” is Martin se eerste raad aan dié met korttermynversekering. “Dit behels minder administrasie, maar polishouers sien ook finansiële voordele omdat versekeraars afslag bied vir gekombineerde portefeuljes. Gekombineerde portefeuljes werk soos enige ander produk wat in groot maat gekoop word. Die administrasiekoste is laer as wanneer ’n enkele, gekombineerde polis geskryf word. Die kostebesparing kan dan aan die polishouer oorgedra word.”

Kliënte wat van ’n gekombineerde polis gebruik maak, sien ook dubbel die byvoordele. Hulle het toegang tot bystandsprogramme wat saam met motorversekering aangebied word, soos pad-, mediese en tuisbystand. Hulle het ook toegang tot die voordele wat kom saam met huishoudelike dekking, soos die vervanging van beskadigde en verlore slotte en sleutels, dekking as jou troeteldier in ’n padongeluk beseer is en gratis toegang tot nooddienste soos loodgieters, elektrisiëns, ruitwerkers en slotmakers.

“Dit kom alles daarop neer dat jy verseker dat jy ’n holistiese versekeringspakket het wat jou leefstyl, sak en persoonlike vereistes pas,” sê Martin.

Hier is sy ses topwenke om geld op jou versekering te bespaar:

  1. Verseker jou voertuig vir die regte waarde: Mense met ouer voertuie moet seker maak dat hulle nie hul voertuig oorverseker nie. Budget Insurance neem wel die voertuie se gedepresieerde waarde in ag, maar nie alle versekeraars doen dit nie.
  2. Werk jou huisinhoudpolis by: Jy kan jou dekking verminder deur net jou ou inventaris gereeld by te werk. Onthou om die versekerde bedrag te bereken op die items se vervangingswaarde en nie markwaarde nie. Verwyder ou items wat nie meer verseker hoef te word nie, soos ou rekenaars en elektronika. Sekere toestelle se prys daal; jy moet regtig nie betaal vir iets wat nou baie minder werd is as toe dit nuut was nie.
  3. Moenie dekking dupliseer nie: As jou korttermynversekeraar padbystand bied, hoef jy nie dan dieselfde diens by jou mediese fonds te neem nie. En as jou selfoon onder jou huisinhoud verseker is, hoef jy nie vir aparte selfoondekking te betaal nie.
  4. Verbeter jou sekuriteit: Jou premie vir jou korttermynversekering word volgens jou risikoprofiel bereken. Dit word onder meer gebaseer op waar jy woon, watter motor jy bestuur en die sekuriteitsmaatreëls wat jy in plek het. Jy kan jou premie verlaag as jy nog veiligheidskenmerke byvoeg, byvoorbeeld ’n opsporingstelsel of alarm. Jy kan ook die premie vir jou huisversekering verlaag as jy ’n nuwe alarm installeer of na ’n veiliger buurt trek.
  5. Moenie onnodig eis nie: Hou jou versekering vir regte noodgevalle wat tot groot verliese vir jou kan lei. Dek kleiner eise eerder self. As jy vir elke voorvalletjie eis, gaan jou versekeraar jou premie aanpas om jou hoër risiko te weerspieël.
  6. Vermeerder jou bybetaling: Jy kan geld spaar deur die bybetaling te vermeerder wanneer jy eis. Ideaal gesproke wil jy so min moontlik bybetaal wanneer jy eis. Maar dit kan veroorsaak dat jou premie baie styg. Die beste raad is om ’n balans te kry tussen ’n redelike premie en ’n bybetaling wat jy steeds sal kan betaal sou jy moet eis.