Julie is spaarmaand, en met dié inisiatief word daar vanjaar weer voluit gefokus op die kweek van 'n broodnodige "spaarkultuur" onder Suid-Afrikaners, sê Gerald Mwandiambira, waarnemende hoof van die Suid-Afrikaanse Spaarinstituut (Sasi). "Suid-Afrikaners het in die algemeen nie regtig 'n 'spaarpoel' vir tye van nood nie en is geneig om hulle dan tot hul aftreegeld te wend.''

Eunice Sibiya, hoof van verbruikersopvoeding by FNB, sê: "Niks is so opwindend as om jou eerste salaris te ontvang, die besef dat 'n inkomste baie nuwe moontlikhede skep nie. Maar 'n mens moet ook dan eers deeglik besin oor jou finansies en wat jy wil bereik noudat jy jou eie geld verdien.

"In dié stadium moet jy elke finansiële verpligting versigtig oorweeg, want hoe jy begin, gaan natuurlik 'n regstreekse impak hê op jou geldsake op die lang duur.''

Jy kan dié Julie gerus inspan as 'n maandlange oefening om jou te help leer om jou uitgawes behoorlik te beheer, om regtig binne jou vermoë te leef, stel Wikus Olivier, skuldbestuurkenner van DebtSafe, voor.

Hier's 'n paar algemene finansiële foute waarop jong mense kan let:

1 Begroot nie: 'n Begroting is noodsaaklik om jou onnodige besteding te help identifiseer en jou uitgawes behoorlik te beplan, sê Eunice. Só hou jy dus tred met alles wat jy bestee en kan jy uiteindelik geld toewys aan sleutelareas.

Wanneer jy dit saamstel moet jy "behoeftes", wat regtig nodig is, skei van "begeertes" - wat jy graag wil hê, sê Wikus. Veral wanneer dinge die maand 'n bietjie knyp, moet jy ook jou inkopielys hersien en liewer 'wat ek wil hê'-items uitlaat. "As jy regtig iets wil hê, sit dit eerder op jou begroting se 'spaar vir'-lys...'' Selfdissipline is hier van sleutelbelang, sê Eunice.

2 Dink ontspanning beteken noodwendig geld uitgee: Ontspan hoef 'n mens partykeer nie 'n sent te kos nie, reken Wikus. "Wat van byvoorbeeld jou blyplek herrangskik as jy iemand is wat daarvan hou om alles onder beheer te hê?" Of fliekboffins kan 'n uitruilklub saam met pelle begin.

En kyk soms eers wat jy alles in jou yskas en koskas het voordat jy 'n wegneemete bestel of by 'n restaurant insak. Kyk of jy nie self iets interessant aanmekaar kan slaan bloot met die kruideniersware wat jy reeds het en 'n paar goeie resepte van die internet af nie.

3 Gaan te veel skuld aan: "Mense raak dikwels opgewonde daaroor dat hulle begin verdien het – en dan gaan party te veel skuld aan om besittings bymekaar te maak wat hulle baiekeer nie nodig het nie... sonder dat hulle eerstens voorsiening maak vir spaar,'' sê Eunice.

As jy skielik toegang tot krediet het, is dit dalk moeilik om die versoeking om te bestee te weerstaan. Maar onthou skuld is 'n groot verantwoordelikheid en jy moet jouself nooit oorbelas nie. Anders gaan jy heel waarskynlik vorentoe bloot nie met paaiemente kan byhou nie. Jou fokus moet veel eerder op spaar en rente verdien wees, pleks van onnodig skuld aan te gaan.

Moenie verstandige besteding, doeltreffend spaar en jou skuld so gou moontlik delg beskou as dinge wat jy maar kan "los tot later" nie, sê Wikus.

Koop sover moontlik op kontant en moenie in maklik verkrygbare krediet verstrik raak nie, is Sasi se raad: "Trouens, sny eerder al daardie winkelkaarte op.'' En as jy nie meer jou maandelikse paaiemente kan bybring nie, moet jy eerder dadelik jou situasie met jou kredietverskaffers bespreek, sê die instituut.

4 Het nie 'n noodfonds nie: Dis noodsaaklik om jouself teen geldtekorte weens onvoorsiene uitgawes te beskerm, sê Eunice. 'n Mediese noodgeval of 'n motor wat skielik die gees gee kan 'n groot impak op jou finansies hê, veral as jy nog nie kapitaal of bates bymekaargemaak het nie. Sonder 'n noodfonds (jy kan byvoorbeeld 'n geldmarkrekening daarvoor open) moet jy met so 'n terugslag dalk noodgedwonge ekstra skuld aangaan of jou spaargeld vir later 'n lelike knou gee.

5 Stel aftreevoorsiening uit: 'n Mens moet vir "eendag" begin belê terwyl jy nog jonk is – enige uitstel kan jou op die lang duur benadeel. Jy dink dalk jy't nog baie tyd vir voorsiening maak, maar die beste is om daarmee weg te spring sodra jy 'n inkomste verdien. Vroeg begin is een van die belangrikste boustene vir 'n sorgvrye aftrede. Dit help jou die grootste moontlike voordeel uit saamgestelde rente trek en die impak van inflasie beveg, beduie Eunice.