Ek het ’n paar kollegas wat naby aan my sit, gevra hoe hulle geld spaar. Tot my verbasing het sommige gesê hulle spaar glad nie en dat hulle eintlik taamlik onspaarsamig leef, soos om kos sleg te laat word en dit weg te  gooi. Hier is egter die goeie raad wat ek gekry het:

Liezel Joubert (leefstylredakteur): “Ek bring my eie middagete en happies werk toe.”

Vanessa Holies (kantoorbestuurder): “Ek beplan ’n 21-dag-spyskaart en ek doen my inkopies daarvolgens. ”

Jeani Tutt (mode-assistent): “Ons skakel altyd die geiser af wanneer ons weggaan vir naweke. En my man het ophou rook.”

Elmarie Meyer (uitlegkunstenaar): “Ek het opgehou om wegneemetes te koop en nou bespaar ek R200 per maand.”

Lerato Seuoe (skoonheidsredakteur): “Ek doen my eie mani- en pedikure.”

Natalie Cavernelis (senior subredakteur): “Ek koop al my Kerspresente op uitverkopings deur die jaar. Dit maak ’n groot verskil.”

Astrid Lippert-Fisher (assistent-leefstylredakteur): “Ek en my man doen net een keer per maand inkopies sodat ons nie in die versoeking gebring word deur onnodige goed nie. Ons hou al die groente en vrugte in die koelkas sodat dit langer kan hou. ”

Melanie Smook (uitlegkunstenaar): “Ná ons baba se geboorte het ons net opgehou om enigiets vir onsself te koop. Ek kan nie die laaste keer onthou dat ek vir myself ’n nuwe kledingstuk gekoop het nie.”

- Elna van der Merwe (leefstylherskrywer en boekeredakteur)