Die einde van die jaar is om die draai en sommige mense beplan miskien om oorsee te gaan of familie in die binneland te besoek.

Jy sal nie vergeet om ’n tas te pak nie, net soos jy nie jou paspoort of jou vliegkaartjie sal vergeet as jy gaan reis nie. Dit is net so belangrik om te onthou om reisversekering uit te neem.

Hou jou vakansie stresvry

Reis kan ’n hele klomp risiko’s insluit. Jy kan ’n mediese noodgeval in ’n vreemde land ervaar of ’n natuurramp kan jou dwing om jou hotel te verlaat. Wat gebeur as jou vlug gekanselleer word of jou bagasie wegraak? En wat gaan jy doen as jou paspoort of beursie gesteel word terwyl jy met vakansie is?

Reisversekering sorg hiervoor. Voor jy koop moet jy egter in gedagte hou dit kan gedeeltelik in van jou ander polisse gedek wees. Dit is die moeite werd om dit te onthou terwyl jy bepaal watter dekkingsvlak jy gaan nodig hê.

Soorte reisversekering.

Reisversekering kan enigiets wees: van ’n eenvoudige polis wat jou toestelle teen diefstal dek tot ’n omvattende polis wat sal betaal wanneer jy tydens ’n mediese noodgeval per vliegtuig na die naaste hospitaal op enige plek ter wêreld vervoer moet word.

Dekking vir mediese dienste, kansellasies, bagasie wat wegraak, vertragings, persoonlike aanspreeklikheid en ongelukke word oor die algemeen by ’n reisversekeringspolis ingesluit – met verskeie limiete op die dekking, afhangend van dit wat jy kies.

Reisversekering behels twee hoofkategorieë, naamlik internasionaal en binnelands.

Internasionale reisversekering

Jy koop versekering vir ’n internasionale reis deur ’n versekeraar in die land waar jy woon – die land waarheen jy teruggestuur sou word ná ’n ernstige mediese noodgeval, of die land waarheen jy sal moet reis indien ’n familielid ernstig siek word (daar word veronderstel dat dit dieselfde land is). Dit is ’n noodsaaklike deel van internasionale reise. Baie van die gesondheidsorgreëlings sal nie in ander lande van toepassing wees nie en jy sal óf versekering nodig hê óf jy sal al die mediese rekenings uit jou eie sak moet betaal.

Versekering vir binnelandse reise

As jy plaaslik reis, kan jy ook versekering vir binnelandse reise koop. Hierdie polisse is oor die algemeen goedkoper as internasionale reisversekering, aangesien dit gewoonlik nie mediese dekking insluit nie omdat daar aangeneem word jy kan ander reëlings tref (soos ’n mediese fonds). Dit fokus daarop om jou net te vergoed vir probleme wat met reis te doen het, soos kansellasies en sluitings. Dit is gewoonlik minder noodsaaklik en jy kan die waarde daarvan oorweeg op ’n reis-vir-reis-grondslag.

Die koste van reisversekering

Die dekking wat jy kies sal ’n uitwerking hê op die koste van die versekering, dus moet jy op die volgende let as jy die beste dekking vir jou behoeftes soek:

  • Hoe lank gaan jy reis (sluit die dag in wat jy vertrek, die dag waarop jy by die huis aankom, plus ’n ekstra dag of twee aan weerskante ingeval daar vertragings op die reis is).
  • Reisversekering dek verskeie situasies wat dalk uitgesluit kan wees by die basiese dekking wat kredietkaartmaatskappye en gesondheidsorgplanne bied.
  • Maak seker jy kies ’n geskikte en voldoende versekeringsplan as jy meer spesifieke of spesiale dekking nodig het.
  • Die heel belangrikste is om bewus te wees van die uitsluitings in jou verkose dekking.

Reis gaan in die meeste gevalle oor vryheid, en dit kom dalk voor asof onderwerpe soos reisversekering die pret uit die reis gaan wegneem. Dit is egter ’n besluit wat jou reis kan maak of breek. Gesels dus met jou raadgewer indien jy nie seker is oor die soort versekering wat jy nodig het nie en geniet die reis.

- Bertus Visser, hoof van PSG Insure Distribution