Die aankondiging Maandagmiddag dat die graderingsmaatskappy Standard & Poor’s Suid-Afrika na ’n nie-beleggingsgradering afgradeer het, het die land aan’t gons.

Terwyl daar in spanning op Moody’s Suid-Afrika se graderingsbesluit op Vrydag gewag word, begin daar waarskuwingsliggies flikker rondom pensioenfondse.

Sou Moody’s wel in S&P se voetspore volg en die afgradering bevestig, kan dit aldus Netwerk24 tot gevolg hê dat talle pensioenfondse en ander institusionele beleggers van ander lande nie meer in Suid-Afrika kan belê nie.

Hoekom is die graderingsmaatskappye se bevindinge wel belangrik?

Net soos jy as individu vir kredietwaardigheid oorweeg word, geld dit ook vir die land as ’n “lener”. Die verwagting is daar dat geld wat geleen word, sonder verbreking van enige ooreenkoms terugbetaal moet word.

’n Goeie kredietgradering beteken ook dat lenings teen ’n gunstiger rentekoers bekom kan word.

Kan die afgraderings ignoreer word?

Nie regtig nie. Vir die regering beteken dit hoër rentekoerse vir lenings aangegaan, minder geld vir maatskaplike pensioene, beleggingsgeleenthede, skole, paaie en maatskaplike dienste.

Terwyl beskuldigings en verwyte oor en weer vlieg in die sosiale media, is daar sewe goed rondom rommelstatus waarvan jy kennis moet dra.

1. Wat gaan die korttermyn-impak op jou wees?

Chris Malikane verbonde aan die universiteit van die Witwatersrand het aan Times Live gesê dat die opgewerktheid rondom graderingsmaatskappye soms die feite oorskadu. Hy’t aangedui dat selfs in geval waar die beleggingskoers in ons land sou afneem, die gemiddelde landsburger nie juis op die korttermyn daardeur geraak gaan word nie.

2. Hoe lank gaan dié afgradering geld?

Per Hammarlund, hoof van ontluikende markte in Stockholm, het gesê dat dit minstens drie tot vyf jaar kan duur voordat Suid-Afrika weer in aanmerking geneem sal word vir ’n moontlike opgradering. Maar gegewe die roete wat die politieke speelveld nou inslaan, lyk dit volgens hom glad nie goed vir ons land nie.

3. Rentekoerse

Terwyl die afgradering toegang tot krediet gaan inperk, kan dit potensieël daartoe lei dat Suid-Afrikaners se sak meer geruk gaan word met hoër rentekoerse op lenings. Dit het veral betrekking op huislenings en motorfinansiering.

4. Kleinsake-besigheidsvooruitsigte

Die ekonoom, dr. Azar Jammne, sê dat die afgradering buitelandse beleggers minder geneë kan maak om Suid-Afrikaanse staatseffekte te bekom.

Dit is slegte nuus vir die ekonomie in geheel, insluitend kleinsake-besighede. Hy het gemaan dat sou die rand skielik nog verder daal, dit tot verhoogde inflasie, kos- en brandstofpryse sal lei.

5. Werksgeleenthede en armoede

Christie Viljoen, ’n senior ekonoom by KPMG Suid-Afrika, het aangedui dat onsekerheid rondom die korttermynroete wat plaaslike politiek kan volg, ’n impak op plaaslike en buitelandse beleggings in Suid-Afrika kan hê. Dit kan die beleggings wat die land benodig om onder meer werkloosheid en armoede aan te spreek, kortwiek.

6. Waar gaan die geld vandaan kom?

Chris Gilmour, beleggingsanalis vir Absa, het in 2016 reeds gewaarsku teen die gevare van ’n afgradering.

“Sou Suid-Afrika afgradeer word tot rommelstatus, beteken dit die land moet meer geld betaal en meer geld inwin vir ekonomiese groei, sleutelprojekte en dienslewering.

Hy het aangedui dat die regering, net soos in die geval van ’n individu wat byvoorbeeld ’n huislening wil aangaan, ook by internasionale finansiële markte om lenings sal moet aanklop.

7. Kan dit reggestel word?

Volgens Chris moet die graderingsmaatskappy oortuig word dat Suid-Afrika wel ’n robuuste plan in plek het wat goeie vrug afwerp. Daardie maatskappye moet daarvan oortuig word dat Suid-Afrika nie verkwistende uitgawes op groot skaal sal toelaat nie.

Bronne: netwerk24.com, timeslive.co.za, businesstech.co.za