Het dit al ooit by jou opgekom om geld te bespaar deur jou kougom in suiker te steek as die smaak verdwyn het en dit so langer te laat hou? Of wat van spaar op die ou manier deur eenvoudig jou geld vir jou vrou en kinders weg te steek?

Hierdie onortodokse soort raad is twee van die verspotte spaarwenke wat aangebied is as deel van Metropolitan se Ek Kan Spaar-veldtog gedurende nasionale spaarmaand vroeër vanjaar.

Jy KAN spaar “As deel van die Ek Kan Spaar-veldtog het ons deur die sosialemediakanale ’n hele reeks spaarwenke van die publiek ontvang: van die unieke ‘moenie hierdie een by die huis probeer nie’-weergawe tot die verstandige een,” sê Cebisa Mfenyana van Metropolitan.

Dit is ook belangrik om te besef geld spaar gaan nie oor hoeveel jy verdien nie

“Dit het duidelik geblyk uit die geesdriftige reaksie regdeur die veldtog dat die spaar van geld beslis belangrik is vir baie mense – iets wonderliks om waar te neem! Met die huidige wankelende wêreldmarkte en die kwesbaarheid van ons ekonomie, is dit nou belangriker as ooit om vooruit te beplan en ’n paar wyse besluite te neem wat spaar vir jou toekoms betref – of jy nou spaar vir jou opleiding of vir ’n huis, ’n gesinsvakansie of selfs onvoorsiene gebeurlikhede op ’n reëndag. Ons moet meer spaar en glo dat finansiële geletterdheid die sleutel is tot besluitneming oor geldsake.”

Presies hoe om te spaar verskil van mens tot mens.

Vir die dwase

Soms moet jy die breër prentjie in gedagte hou, soos die mense wat die volgende spaarwenke tot die Ek Kan Spaar-veldtog bygedra het:

  • Raak ontslae van jou vrou en kinders.
  • Soek los kleingeld by muntoutomate.
  • Gebruik minder toiletpapier – gebruik die werk se toilet.
  • Stort saam; dis pret en bespaar ook water!
  • Pers jou oorskietstukkies badseep saam om ’n nuwe, groter stuk badseep te maak.
  • Fynkam jou buurman se vullisblik; jy weet nooit watter verrassings jy daarin kan ontdek nie, van ’n halfgebruikte bottel sjampoe tot opknapper en naellak!

Vir die verstandiges

As jy nie alte gretig is om deur jou buurman se vullisblik te snuffel om ’n paar rand te bespaar nie, kan jy moontlik die volgende paar spaarwenke beproef:

  • Gebruik lojaliteitskaarte sover jy kan en verruil die versamelde punte dan vir kontant.
  • Wy een Saterdag per maand aan ’n “geen motor”-dag; dit bespaar werklik petrol!
  • Berei jou middagete vir werk tuis voor pleks van elke dag wegneemkos koop.
  • Maak ’n inkopielysie voor jy gaan inkopies doen, en moenie goed koop wat nie op die lysie is nie.
  • Eet voor jy gaan inkopies doen; om op ’n leë maag inkopies te doen is nie ’n goeie plan nie, want dan koop jy goed wat jy nie nodig het nie.
  • Beplan jou inkopietog om te keer dat jy onnodige tyd (en geld) verspil deur op en af in die gange te loop – sit van 10 minute tot op die uiterste 30 minute opsy vir ’n groot inkopietog.
  • Hou op opgaar, en begin verkoop. As jy lank laas ’n kledingstuk gedra of kombuistoestel gebruik het, verkoop dit. Jy sal verbaas wees hoeveel kontant jy so kan bymekaarmaak en spaar.

Begin vandag nog

“Watter spaarmetode jy ook al kies, die belangrikste is dat jy ’n plan maak en begin,” is Mfenyana se raad. “Soms is dit net ’n geval van jou lewenstyl of koopgewoontes effens verander om die grootste verskil te maak en jou spaargeld ’n hupstoot te gee.

"Dit is ook belangrik om te besef geld spaar gaan nie oor hoeveel jy verdien nie. Of jy nou R50, R500 of R5 000 per maand kan spaar, alles draai om konsekwentheid en vooruitbeplanning. Onthou: ’n klein bedraggie hoop op oor ’n lang tydperk. As jy onseker is oor waar om met jou besparingstog te begin, gesels met ’n finansiële raadgewer wat jou aan die gang kan help kom.”