Laat September dus jou bestedingsvriesmaand raak – dis ’n ideale tyd om ’n vastyd op finansiële gebied in te stel deur alle nienoodsaaklike uitgawes te besnoei.

Hierdie tydelike maatreël is ’n maand lange oefening wat jou sal help om ’n bestekopname te doen van elke sent wat jy uitgee: wat moet bly en wat kan gly. Volgens Wikus Olivier, kundige van skuldbestuur by DebtSafe, is daar ’n klompie dinge wat jy vandeesmaand kan doen om bykomende uitgawes op die ys te sit:

Hersien jou begroting

Kyk objektief na jou huidige begroting en skei die “noodsaaklikhede” van die “behoeftes”. Hoeveel items op jou kruidenierswarelys vandeesmaand is “behoeftes” wat jy nie nodig het nie. Vermaak, DStv-intekening en klere is almal goed wat in die behoefte-kategorie val.

Olivier meen dis beter om jou begroting te hersien om die “behoeftes” uit te sluit wanneer geld skaars is. As jy regtig iets wil hê, moet jy dit by die spaarafdeling van jou begroting voeg.

As jy nie ’n begroting het nie, moet jy onmiddellik ophou met uitstel en ’n begrotingsplan opstel sodat jy kan sien waarheen jou geld gaan.

Lees ook: Beheer jou ego, beheer jou geldsake

Kies gratis aktiwiteite

Ons stel dikwels goedvoel-aktiwiteite gelyk aan geld uitgee. Soms is dit wat die meeste pret verskaf, gratis. Oorweeg dit om oortollige artikels uit jou huis te verban – kundiges stem saam dat dit ’n beproefde manier is om beter en meer in beheer te voel.

Bekyk jou bestaande gewoontes uit ’n pret-oogpunt: Moet julle aandete voor die televisie nuttig of sou ’n piekniek in die tuin prettiger wees? Die biblioteek is net om die hoek vir die boekwurms. Jy kan selfs ’n DVD-biblioteek saam met vriende begin om rolprente uit te ruil en ’n rolprentmarathon saam met die hele gesin te hê.

Doen jou “lenteopruiming” in die huis

Maak ou speelgoed en kombuistoerusting bymekaar en gaan skenk dit aan die Hospies. As jy dit liewer wil verkoop, neem dit na jou plaaslike pandjieswinkel of verkoop dit op OLX of Gumtree.

Dit gaan nie alleen sorg dat jy ’n paar rand kry nie, maar die kaste in jou huis sal ook sommer netjies wees.

Lees ook: Bestuur jou geldsake

Gebruik produkte in die koskas

Kyk mooi na jou spens en besluit om die inhoud op te gebruik voor jy nuwe voorraad aanskaf. Die internet wemel van sakpasresepte sowel as slim idees om die kos wat jy het, op die genotvolste maniere te gebruik.

Of jy nou jou skuld wil delg, geld wil spaar of net jou geld weldeurdag wil bestee, kan jy slim bestedingsgewoontes ontwikkel met ’n bestedingsvries hierdie maand.

As selfs nie ’n bestedingsvries gaan sorg vir ekstra geld nie, kan jy dit oorweeg om met die DebtSafe-span te gesels om uit te vind hoe hulle jou kan help om jou maandelikse paaiemente aan te pas om jou kontantvloei te verbeter.

Moenie uitstel nie; kweek vandag nog geldslim gewoontes.

debtsafe-logo-CMYK-page-001