[caption id="attachment_86375" align="aligncenter" width="600"]Om te spaar was nog nooit lekker gewees nie, maar mens moet seker iewers begin! Om te spaar was nog nooit lekker gewees nie, maar mens moet seker iewers begin![/caption]

Dis werklik nie so moeilik om elke maand ’n paar rand weg te sit nie; jy moet net besin voor jy jou kontant of bankkaart uithaal.

-        Maak elke dag jou eie middagete

-        Probeer wegbly van die snoepie of kafeteria. Daardie R20 wat jy elke dag bestee aan kiepiemielies en ’n koeldrank werk duur uit.

-        Maak jou gunsteling-peuselhappies soos koekies en kiepiemielies tuis, pleks dat jy dit koop.

-        Let op na spesiale aanbiedinge by jou gunsteling-restaurante. Baie eetplekke het twee-vir-een-aande, of bied maaltye aan teen halfprys.

-        Probeer jou toiletware in grootmaat koop. Let op na spesiale aanbiedinge, soos drie items vir die prys van twee.

-        Maak liewer verjaardagkaartjies as dat jy dit koop; jy sal dan nie net spesiale, persoonlike kaartjies aan jou vriende gee nie, maar ook baie bespaar.

-        Gepraat van verjaardae: As jou geldjies min is wanneer ’n vriend verjaar, kan jy gerus as geskenk ’n koek bak of blomme in jou tuin pluk. Die gedagte is die belangrikste.

-        Reël fliekaande tuis saam met jou vriende pleks dat julle ’n rolprentteater besoek. DVD-winkels het ’n groot verskeidenheid rolprente. Nooi jou vriende, laat elkeen ietsie te ete bring en geniet ’n bekostigbare, gesellige aand.

-        Trek geld by jou bank se OTM. Ander banke vra gewoonlik ’n fooi wanneer jy hul OTM’s gebruik.

 - Megan Bursey